Die direktoraat veeartsenydienste (DVS) en die Vleisraad van Namibië, is in samewerking met die res van die rooivleisbedryf op ’n hoë gereedheidsgrondslag en doen alle moontlike stappe om te voorkom dat bek-en-klouseer vanuit Suid-Afrika of Botswana hierheen versprei.

’n Noodkomitee is saamgestel bestaande uit sleutelspelers soos die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), sê die Namibië Landbou-unie (NLU).

“Dit is belangrik vir die LPO om DVS en die Vleisraad te ondersteun en seker te maak dat alle biosekuriteitsmaatreëls behoorlik toegepas word. Daarom sal daar ook ’n beroep op boere naby die onderskeie risikogebiede gedoen word om seker te maak alle voorkomende aksies word wel deur die verantwoordelike partye geïmplementeer,” sê die NLU in sy jongste nuusbrief.

Die Vleisraad sal DVS ondersteun met personeel by alle hoofgrensposte sodat voertuie en reisigers wat die land binnekom, ontsmet word, en om te verseker geen verbode produkte kom die land binne nie. Bystand word by grensposte deur die Namibië Inkomste-agentskap (NamRA) en die Namibiese polisie verleen.

Die NLU sê die grens aan die oostekant tussen Namibië en Suid-Afrika is geïdentifiseer as ’n kwelpunt en daadwerklike optrede is nodig om hierdie heining te herstel waar nodig.

“Boere teen hierdie grens word versoek om aan DVS die nodige toegang te gee om die inspeksies te kan doen.

“Daar word ook versoek dat vee wat teen hierdie grense wei, verskuif word na ander kampe sodat hulle nie in kontak kan kom met vee aan die Suid-Afrikaanse kant nie,” sê die unie in sy nuusbrief.

Daar is reeds ’n gebeurlikheidsplan vir ’n moontlike uitbreking van bek-en-klouseer gereed.

“Indien die siekte in Namibië in die gebied vry van bek-en-klouseer voorkom, bepaal die protokol dat indien die uitbreking beperk is (2–3 plase), alle diere op die betrokke plaas(e) onmiddellik van kant gemaak word om sodoende so gou as moontlik ons vry status te herwin.

Die fyner besonderhede rondom die vergoeding aan boere wat hierdeur geraak word, moet nog uitgeklaar word.

“Dit is die LPO se standpunt dat boere verseker moet wees van vergoeding in die geval van die vernietiging van kuddes,” sê die NLU, oorkoepelende liggaam waaronder die LPO resorteer.

Indien die uitbreking egter oor ’n wyer gebied strek, sal vernietiging nie ’n opsie wees nie, en sal die diere waarskynlik ingeënt word.

“Dit sal veroorsaak dat ons bek-en-klouseer vrye status glad nie vinnig herwin sal word nie.

“Dit is dus in almal se belang dat ’n uitbreking so gou as moontlik gestop en aangemeld word,” benadruk die NLU.

“Indien bek-en-klouseer binne ons landsgrense voorkom, is dit uiters belangrik dat die hele bedryf saamwerk en dat almal hul verantwoordelikheid nakom. Boere se verantwoordelikheid is om op die uitkyk te wees vir die siekte, om dit sonder skroom aan te meld en onmiddellik alle beweging van diere en mense op die betrokke terrein te staak.

“Dit is die enigste manier waarop die siekte in sy spore gestuit kan word,” sê die unie.

‘n Meer vaartbelynde, kleiner noodkomitee teen bek-en-klouseer, onder die leiding van die Vleisraad en DVS, sal

voortaan elke twee weke vergader om die onmiddellike optredes en implementering van voorkomende maatreëls te bespreek en te monitor.

Intussen is die verbod op die beweging van lewende hawe in Suid-Afrika opgehef. Dit word weer toegelaat in sekere streke en onder sekere omstandighede.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.