Bek-en-klouseer (BKS) is ‘n hoogs aansteeklike virussiekte wat onder vee met gesplete hoewe voorkom. Dit kan tussen beeste, bokke, skape en varke versprei.

Die Landbouwerkgewersvereniging (LWV) van die Namibiese Landbou-unie (NLU) het in die lig van uitbrekings van die siekte in Suid-Afrika en Botswana, ’n beroep gedoen op alle produsente om sonder versuim die situasie met hul werknemers te bespreek.

“Dit is belangrik dat die personeel foto’s bekyk en weet wat die simptome is. Nog voordat mens die bek en die kloue inspekteer, kan mens reeds sien dat diere mank loop en kwyl. Onthou om gesigmaskers en handskoene te dra wanneer diere ondersoek word. Aangesien die simptome met hondsdolheid oorvleuel, moet ‘n veearts onmiddellik genader word om die geval(le) te verifieer,” sê die NLU in sy nuusbrief aan lede.

Kyk uit hiervoor:

• Beeste ontwikkel gewoonlik ‘n koors en blasies op die hoewe, uier en in en om die bek.

• Die sere in die bek veroorsaak dat hulle nie wil vreet nie.

• Die diere kwyl en slymerigheid loop by die neus uit.

• Die diere wil nie loop nie of loop mank aangesien hulle hoewe seer is.

Aangesien bek-en-klouseer volgens wet ‘n aanmeldbare dieresiekte is, moet boere moontlike gevalle onverwyld by die naaste veeartsenydienste-kantoor aanmeld.

Boere wat in die ooste van die land teenaan die Suid-Afrikaanse grens boer, word versoek om hulle vee wat in kampe direk aan die grensheining wei, na verder geleë kampe te verskuif.

Boere word ook versoek om seker te maak die nodige beheermaatreëls teen die siekte word by grensposte in hul omgewing toegepas. Dit behels die verbod op die invoer van verbode produkte, asook die ontsmetting van voertuie, vragmotors en reisigers.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.