Die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF) sal vandag sy eerste jaarvergadering in Windhoek hou, met minder as ’n week wat oor is voor ’n tweede beleggingsvenster vir hul beplande bees-uitvoerabattoir open.

Die BVCF se mnr. Harald Marggraff het produsente daaraan herinner dat die vergadering reeds om 08:30 by Wanderers sal plaasvind en dit slegs vir opbetaalde lede is.

Terselfdertyd sal ’n tweede beleggingsgeleentheid in Savanna Beef Processors (SBP) – alleenlik vir beesprodusente – eerskomende Vrydag oopmaak en weer op 9 September sluit.

Die BVCF het onlangs ’n uitnodiging aan hul lede gerig om van die geleentheid gebruik te maak.

“Die rede waarom ons dit weer slegs aan produsente beskikbaar stel, is ’n sterk vraag na beleggings onder produsente ná die sluiting van die eerste ronde. Talle produsente het gesê hulle kon nie betyds reëlings tref om die nodige geld in die hande te kry nie.

“Verder is daar strategiese en wettige voordele daaraan verbonde as produsente hul aandeelhouding bó die 75%-merk kan kry. Dit sal ook ideaal wees as die voorgestelde aandelekapitaal van N$200 miljoen alleenlik deur beesprodusente besit kan word,” het die BVCF in ’n verklaring verduidelik.

Die BVCF het voorheen al verduidelik net N$54 miljoen se aandele is beskikbaar en dat “eerste aansoekers eerste gehelp sal word”.

Die forum se raad sê in die geval dat daar té veel aansoeke vir aandele ontvang word, behou hulle die reg om hul oordeel te gebruik en aandele toe te ken soos hulle dit as gepas beskou.

Hulle sal egter van sekere riglyne gebruik maak, soos voornemende beleggers wie se inskrywings eerste ontvang word, sal voor in die ry staan vir aandele – totdat aansoeke vir alle oorblywende aandele ontvang is.

Die forum sê Cirrus Capital sal weer die proses behartig.

Dit volg nadat die inisiatief reeds as ʼn “reusesukses” beskryf is toe 549 produsente tydens die eerste beleggingsronde in Junie ʼn indrukwekkende N$146 miljoen in SBP ingestoot het en dus self sowat 73% van die beskikbare N$200 miljoen se aandele opgekoop het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.