Terwyl Meatco onlangs ’n lening van N$200 miljoen van die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) bekom het, sê die onderneming hy is nou ook op datum met agterstallige betalings aan produsente, terwyl hy pas ook nog “ou skuld” aan ’n bank vereffen het.

Dit kom ná ’n “baie stormagtige tyd, met diep onsekerhede”, wat onder meer deur droogte, die Covid-19-inperkings, die uitbreking van veesiektes asook veldbrande meegebring is, het Meatco se uitvoerende hoof, mnr. Mwilima Mushokabanji, gister in ’n openhartige onderhoud met Republikein gesê.

Boonop is dit te danke aan dié onderneming dat daar onlangs vir die eerste keer sedert onafhanklikwording beesvleis vanaf noord van die veterinêre kordonheining (VCF) na lande soos Ghana en Angola uitgevoer kon word, terwyl dit oor die afgelope ses maande ’n rekordhoeveelheid beesvleis uitgevoer het.

Mushokabanji is optimisties en selfversekerd daaroor dat die onderneming se vyfjaar- strategiese, geïntegreerde sakeplan klaarblyklik vrugte begin afwerp.

Meatco is “stroomop” en “stroomaf” erg oor die afgelope twee jaar geraak en dit was net met behulp van innovasie dat die onderneming nie gesink het nie, sê die uitvoerende hoof.

“Ons het begin om ’n meer ‘lenige’, dog dinamies beweeglike kommersiële openbare onderneming te bou. Dit het behels dat ons die aantal werknemers moes verminder, maatreëls vir kostebesparing moes toepas – sodat ons die onderneming kan dien en terselfdertyd mededingend bly en volhoubaar is.”

DIE LENING

Mushokabanji sê hulle het ’n strategiese, geïntegreerde sakeplan wat oor vyf jaar strek en deur die raad goedgekeur is.

“Toe ons uit die baie stormagtige tyd met diep onsekerhede gekom het, moes ons seker maak ons maak aanpassings en dat ons ’n meer mededingende strategie vir die onderneming begin.

“Ons het na die regering uitgereik vir die geld wat ons nodig het. Die geld is daar om nuwe lewe in ons strategiese plan te blaas,” het hy verduidelik.

“Ons gaan dit gebruik om seker te maak ons belê in ons voerkrale en het geld vir die huurplase waar ons beeste loop. Dit is iets waarop ons kan terugval; wanneer produsente nie genoeg beeste het nie, behoort ons genoeg van ons eie beeste te hê om na die abattoir te neem.”

SKULD

“Ons moes ook die kwessie van Meatco se skuld aanpak, wat op ’n baie ‘ongesonde’ plek was. Van hierdie skuld gaan so ver terug as 12 jaar, toe geeneen van die huidige bestuur hier werksaam was nie.

“Sowat 24 maande gelede, toe ek by Meatco aangekom het, het ons FNB Namibia sowat N$520 miljoen geskuld.

“Vandag, op hede, skuld ons hulle net sowat N$24 miljoen. Min kommersiële openbare instelling kan so iets regkry.

“Meatco het ook in 2013 ’n lening van N$24 miljoen by Bank Windhoek uitgeneem, en ons het dit verlede week afbetaal.”

Wat hy nie genoem het nie, is dat Meatco twee jaar gelede óók hoed in die hand by die DBN moes aanklop. Hy kon toe danksy ’n lening van N$250 miljoen van dié bank verhoed dat FNB Namibia ’n likwidasie-aansoek teen hom indien oor agterstallige betalings van N$100 miljoen.

Hy verduidelik dat baie van die geld wat onlangs deur Meatco gemaak is, in hul strategie vir skuldvermindering gebruik is om veral ou skuld te delg.

Mushokabanji erken “daar was ‘n tyd toe hulle baie laat met produsentebetalings was”. Hy sê faktore wat hiertoe bygedra het, sluit in die rimpeleffek van logistieke uitdagings wat tydens die Covid-19-pandemie ervaar is.

“Vandag het ons egter die agterstand ingehaal en ons het die agterstallige geld aan produsente betaal,” het hy gesê.

NCA

“Ons is ook besig om ons markte te diversifiseer,” het hy gesê.

“Ons dryf ’n meer inklusiewe agenda sodat produsente in die noordelike kommunale (NCA) gebied ingesluit word. Dienooreenkomstig het ons die Katima Mulilo-abattoir oopgemaak.”

Mushokabanji sê dit kos tussen N$100 miljoen en N$150 miljoen om so ’n abattoir oop te maak.

Hy het gesê Meatco het egter nie op hom laat wag nie en nou kan vleis vir die eerste keer in jare van noord van die veterinêre kordonheining, oorbeweeg na die suide daarvan.

“Dit word gedoen met behulp van voorgeskrewe protokol, sonder om ons ander markte in byvoorbeeld China, Europa en Amerika te destabiliseer,” het hy gesê.

Intussen het Meatco en die regering Angola genader om ’n mark in dié buurland te ontwikkel.

“Soos ons nou praat, het ons reeds meer as 100 ton na die buurland gestuur – vanaf die gebied noord van die VCF.

“Ons het ook vragte na Ghana gestuur en kry al hoe meer bestellings vanuit Wes-Afrika. Dit is goeie nuus vir ons, want dit wek belangstelling in die NCA-gebied se vleis,” het hy verduidelik.

“Oor die afgelope vier maande wat ons abattoirs in die noordelike kommunale gebied bedryf, het ons reeds N$8 miljoen in die sakke van hierdie produsente teruggeplaas.”

Die onderneming bestaan om maksimum opbrengste vir die primêre produsent te bied, het hy gesê.

MEER UITVOERE

Volgens die Vleisraad van Namibië was daar oor die afgelope ses maande ’n beduidende styging in beesvleisuitvoere.

In hul nuusbrief van 29 Julie word daar aangedui dat beesvleisuitvoere jaar op jaar met 98% gegroei het en op 5 100 ton te staan gekom het.

Die goeie ding, sê Mushokabanji, is dat produsente oor die afgelope twee jaar nie stil gesit het nie – hulle het die nasionale beeskudde herbou.

“Tot dusver vanjaar het ons 25 000 beeste geslag. Dieselfde tyd verlede jaar het ons nog net 13 000 beeste geslag.

“Ons kan nou meer doen, want boere het hul kuddes herbou en daar is beeste beskikbaar,” het hy gesê.

“Dienooreenkomstig kan ons ook beter reageer op die sterk vraag na ons produkte in ons markte,” het hy verduidelik.

TOEKOMS

Mushokabanji sê wat die toekoms betref, moet die Meatco-handelsmerk hervorm en herbou word sodat dit op ’n volhoubare wyse welvaart vir alle Namibiërs skep.

“Ons kan nie ’n openbare instelling wees as ons net produsente suid van die VCF dien nie.

“Ons wil ook seker maak ons verdriedubbel ons inkomste en so ook ons bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP). Meatco wil steeds die leiersfiguur bly as dit kom by werkskepping en ons bydrae in terme van voedselsekuriteit.”

Hy sê as deel hiervan sal hulle Okahandja-abattoir ook opgeknap word. “Ons beskou Meatco as ’n katalisator vir verandering – ook in die Namibiese ekonomie – en ons is vol vertroue dat ons dit sal regkry.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.