Noudat beesprodusente in totaal N$173,568 miljoen in Savanna Beef Processors (SBP) belê het, sal die volgende stap wees om die res van die N$200 miljoen aandele – presies N$ 26,432 miljoen – aan institusionele beleggers te verkoop.

Mnr. Mecki Schneider, voorsitter van SBP se raad, het Donderdag in ’n mediaverklaring gesê die projek sal ook oor ’n lening-gedeelte beskik.

“Deur slagbeurte met aandeelhouding te koppel, het SBP daarin geslaag om ’n groot mylpaal te bereik – met ’n toegewyde deurset vir die abattoir van 43 392 slagdiere,” lui die verklaring.

Dit volg nadat ’n tweede rondte vir beleggings deur beesprodusente in SBP op Vrydag 9 September gesluit het en ’n verdere N$27,560 miljoen deur 165 produsente belê is. Tydens die eerste beleggingsvenster vroeër vanjaar, het produsente reeds N$146 miljoen se aandele in die abattoir opgekoop.

Dus besit 659 beesprodusente nou 86,8% van die abattoir.

VERWAGTINGE OORTREF

“Die oorweldigende steun deur beesprodusente het daartoe gelei dat Savanna meer as 80% van sy aandele onder produsente kon werf – iets wat ons stoutste verwagtinge oortref het. Die N$173,568 miljoen wat ingesamel is, het ’n idee in ’n realiteit omskep en die vooruitsigte van Savanna verbeter,” het Romé Mostert van Cirrus Capital gesê.

Schneider het gesê baie werk lê nog voor, maar dat produsente daarvan kan seker wees dat SBP asook die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF) se taakspan aandag gee aan al die fyner detail, met die “gewaardeerde ondersteuning van baie adviseurs en kenners in die gebied van projekbestuur”.

Hy het bygevoeg dat hulle verder gevorder het met die besluitneming oor die perseel en dat plaaslike, maar ook internasionale kenners genader word vir die ontwerp en bou van die abattoir.

Schneider het bygevoeg dié inisiatief is in pas met die nasionale tuisgroeikonsep, wat bykomende buitelandse valuta vir Namibië sal verdien, werk sal skep en die krimpende landelike ekonomieë van Namibië kan omkeer.

Hy het alle produsente bedank wat genoeg vertroue in hulle gestel het om in die nuwe fasiliteit te belê.

“Dis ’n duidelike teken dat daar ’n behoefte bestaan om die winsgewendheid van beesboerderye te verbeter.

“Die meeste van ons is oorweldig deur die ondersteuning, wat daartoe gelei het dat die aanvanklike mikpunt van N$100 miljoen se beleggings deur produsente, ver verbygesteek is.

“Met behulp van die produsentgedrewe inisiatief, moet ons beheer oor ons produk neem – tot voordeel van die produsent met ’n fasiliteit wat deur die produsente besit word.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.