Die Vleisraad van Namibië het aansoeke geopen vir ‘n kwota van 1 600 ton – wat aan Namibië beskikbaar is – vir die produksie en uitvoer van beesvleis na Noorweë.

Volgens die raad sal die kwota toegeken word aan organisasies wat aan die vereistes voldoen en goedgekeur is vir produksie en uitvoer na daardie land, en sal dit geldig wees vir die tydperk vanaf 1 Januarie tot 31 Desember 2023. Nuwe toetreders tot dié mark word aangemoedig om aansoek te doen, het hy bygevoeg.

Volgens die raad sal die verdeling en toekenning van die beesvleiskwota benader word in ooreenstemming met sy kwotatoekenningsmodel, sowel as die beginsels wat uiteengesit word in die kabinet se voorskrifte vir die uitvoer van beesvleis na Noorweë.

Daar word van aansoekers verwag om ‘n dekbrief aan te heg wat motiveer hoekom die kwota aan hulle toegeken moet word en wat hul totale tonnemaat vir die 2023-kalenderjaar stipuleer.

Hulle moet ook statutêre dokumente aanheg as bewys van die inkorporasie van wettigheid, historiese slaggetalle en beesvleisuitvoervolumes – wat gedemonstreerde kapasiteit aandui om die tonnemaat waarvoor aansoek gedoen is, uit te voer.

Aansoekers benodig ook ’n bewys dat hulle aan korporatiewe statutêre vereistes voldoen, insluitend ’n bewys dat Vleisraad-heffings ten volle betaal is op die betrokke aansoekdatum.

N$520 MILJOEN INGEWIN

Die Noorweegse mark is belangrik vir Namibië en lewer goeie uitvoerverdienste, wat bydra tot die stabiliteit van die vee- en vleisbedryf.

In 2021 het Namibië sy volle kwota na Noorweë uitgevoer en selfs Botswana se kwota benut aangesien dié land slegs 865 ton uit die toegelate 1 600 kon voorsien.

Namibië deel ‘n kwota van 3 200 ton vir die uitvoer van beesvleis na Noorweë met Botswana. Volgens die Vleisraad word dit onder twee kwotaskemas bestuur, en het die twee lande N$520 miljoen in 2021 deur dié kwota ingewin.

‘n Algemene stelsel-van-voorkeur-kwota van 2 700 ton word aan Namibië of Botswana toegeken op grond van wie eerste in die tou staan, en die twee lande kan toegang tot die mark kry vir die Europese Vryhandelsvereniging/Suider-Afrikaanse Doeane-unie se kwota van 500 ton deur ‘n Noorweegse veiling.

Botswana en Namibië is in 1995 vir uitvoer na Noorweë goedgekeur, en uitvoerders het sedertdien voorkeur- en belastingvrye marktoegang gehad.

Uitvoer van beesvleis vanaf Botswana na Noorweë het in 1996 begin, terwyl Namibië aanvanklik probleme met salmonella gehad het en nie voor 1998 deurlopend op ‘n jaarlikse basis kon uitvoer nie.

Aansoeke moet voor 1 Oktober in ’n vertroulike koevert by die Vleisraad ingedien word.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.