“In Namibië sê ons maklik bier vloei deur ons are. Bier is grootliks deel van wie ons is, maar ek dink ons moet realisties wees.

“Ons het ’n onverantwoordelike en oningeligte verhouding met drank,” sê Adam Labuschagne, ’n maatskaplike werker en verslawingspraktisyn van die sentrale kus.

Die teenpool hiervan is voortgesette en verbete pogings deur die plaaslike drankbedryf om verantwoordelike gebruik te bevorder, saam met veldtogte vir veral padveiligheid.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se jongste alkoholstudie wat in 2018 uitgereik is, is Namibië vyfde op die lys van Afrikalande met die hoogste alkoholinname.

Namibië is in 2016 wêreldwyd aangewys as die land met die tweede hoogste bier-inname (108 liter bier per persoon) maar het in 2020 tot die agste posisie geval met 83,4 liter per persoon.

Labuschagne sê alkohol is onlosmaaklik deel van die Namibiese kultuur om sosiaal te verkeer.

“Ons kultuur is so verweef met ons tradisies en persoonlike identiteit, maar soos liefdadigheid begin dit by die huis. Ek dink ons moet begin kyk na die groter prentjie – ons paaie lê vol wrakke en ons begraafplase is vol slagoffers.”

In ’n land met groot ekonomiese ongelykhede, meen Labuschagne juis die mees behoeftiges trek aan die kortste end.

“Veral onder armer bevolkingsgroepe is drank die groot dwelmmiddel. In ons inheemse kulture word alkohol self gemaak en in die landelike gebiede kry jy nie ‘designer drugs’ nie, dus is alkohol beskikbaar,” sê hy.

DRANK OP ONS PAAIE

Die Namibiese Motorongelukkefonds (MVAF) glo Namibiërs se ongesonde verhouding met alkohol is een van die grootste gevare op openbare paaie.

“Dronkbestuur is een van die grootste risikofaktore in ongeveer 27% van alle beserings op ons paaie. Dit is ook ’n openbare gesondheidskwessie wat nie net die padgebruikers wat drink raak nie, maar ook onskuldige padgebruikers en voetgangers, sê die fonds se hoof van korporatiewe sake, Surihe Gaomus-Guchu.

Ingevolge die wet mag persone wat onder die invloed van drank of enige onwettige dwelmmiddels in ’n motorongeluk betrokke is, nie ’n eis by die MVAF indien nie.

Passasiers en voetgangers wat nugter was toe die ongeluk plaasgevind het, asook afhanklikes van roekelose bestuurders, mag steeds voordele, soos finansiële vergoeding van die fonds eis.

VERSLAWING

“Mense sien eers alkoholprobleme as dit te laat is, waarskynlik omdat ons gekondisioneer is om te dink alkohol is aanvaarbaar,” sê Labuschagne.

“In elke mens wat met verslawing sukkel se lewe, is daar tye waar die persoon sal wonder of hulle ’n probleem het. Daardie oomblikke kom en gaan redelik vinnig afhangend van die kultuur. In Namibië is alkohol meer aanvaarbaar en verweef met die idee van manlikheid, so daardie oomblikke kan vinnig verbygaan.”

Labuschagne sê nie net alkoholiste moet hul drinkgewoontes dophou nie. Hy sê probleemdrinkers skuil in baie gemeenskappe.

“’n Baie fyn lyn bestaan tussen dié twee,” benadruk hy. Alkoholisme veroorsaak onttrekkingsimptome, wat beteken die liggaam is letterlik verslaaf.

GENERASIES DEUR ALKOHOL GERAAK

Labuschagne sê ’n ongesonde verhouding met drank kan individue vir generasies teister.

“Trauma is ’n reusefaktor waaroor niemand praat nie. Namibië het talle mans wat in die grensoorlog geveg het wat die volgende generasie grootmaak. As gevolg van hul eie traumatiese ervarings, traumatiseer hulle soms hul kinders op ander maniere en so moet elke generasie hulself verdoof,” sê hy.

’n Windhoekse sielkundige berader, Leraska Steenkamp, sê die geweldige rol wat ouers in ’n kind se lewe speel, moet nie onderskat word in gesprekke oor alkoholgebruik nie.

“As ’n ouer te veel drink, kan dit veroorsaak dat kinders verantwoordelikhede aanneem wat nie gepas is vir hul ouderdom nie. Dit kan lei tot gevoelens van woede en wrokke weens die feit dat hulle op ’n jong ouderdom verwerp kan voel.

“Hierdie ervaring kan mense op talle maniere in hul volwasse lewens beïnvloed. Dit kan veroorsaak dat hulle ongesonde verhoudings uitsoek, in dieselfde patrone as hul ouers verval en selfs dieselfde soort ouer word,” sê sy.

DIE VERSKIL

Labuschagne reken veldtogte vir verantwoordelike drankgebruik kan mense psigies kul indien dit bloot gelukkige samesyn naboots.

“As almal rondom jou ’n bier geniet, wil jy nie die heeltyd met ’n koeldrank in jou hand staan nie,” voer hy aan.

Steenkamp glo die kernoorsake moet behandel word eerder as die simptome. Alkoholiste kan volgens haar baie maklik weens die geringste sneller terug op die verkeerde pad beland.

Sy sê kinders wat alkoholisme in hul ontwikkelende jare in gesinsverband ervaar, kan vir die res van hul lewens emosioneel en op ander vlakke kwesbaar wees.

Eggenote word volgens Steenkamp ook diep geraak deur alkoholisme of onverskillige drinkgewoontes.

“Daar is geen manier om verby alkoholprobleme in ’n gesin te kom nie,” sê sy. Emosionele ruimte is vir genesing nodig en Steenkamp sê gesinslede moet die verlede aanvaar en eerlik, asook deur veiligheid en stabiliteit te skep, konstante verbetering najaag.

TYD VIR VERANDERING

Labuschagne sê ondersteuning is van kardinale belang om Namibië se alkoholprobleem hok te slaan.

“Ons moet besef niemand vra om ’n alkoholis te word nie,” sê hy.

Indien jy vermoed iemand het ’n verslawingsprobleem, is daar volgens hom ’n eenvoudige, maar doeltreffende toets: “Vra hulle om op te hou. As jy glo iemand mag verslaaf wees aan skinder, vra hulle om vir ‘n sekere tyd op te hou,” raai hy aan.

Hy glo die tyd het aangebreek vir Namibië om introspeksie te doen oor waar ons as ’n land en as individue met drank staan. Hy stel ook navorsing oor verantwoordelike alkoholgebruik voor.

Steenkamp sê persone wat hul drinkgewoontes wil verander, moet moeite doen om die kern van die probleem te besef.

“Mense drink om iets anders te sus; so hulle sal die harde werk moet insit om agter die kap van die byl te kom. Stokperdjies wat ’n persoon as kind geniet het, kan volgens haar ’n goeie beginpunt wees wanneer iemand hul gewoontes wil verander.

“As kinders weet ons waarvan ons hou en waarvan ons nie hou nie, maar daardie lyne raak dowwer soos ons ouer word en die wêreld vir ons sê waarvan ons moet hou. Ek dink ook mense moet vrede maak met die feit dat hulle nie van alles gaan hou nie. Hulle moet soveel nuwe dinge moontlik probeer en dit los waarvan jy nie hou nie,” sê sy.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.