Die selfverklaarde profeet Jackson Babi is Vrydag in die Gobabis-landdroshof op 12 klagte skuldig bevind wat met renosterstropery verband hou. Babi staar ten minste tien jaar tronkstraf in die gesig. In totaal is hy skuldig bevind en gevonnis vir 19 misdade en moet hy boetes ter waarde van N$370 000 betaal. Sou hy nie die boetes betaal nie, sal verdere tronkstraf by sy vonnis gevoeg word.

Babi se skuldigbevinding is deur die ministerie van omgewing, bosbou en toerisme by monde van sy woordvoerder, mnr. Romeo Muyundu, verwelkom.

BESKERMDE WILD

Muyundu het verduidelik Babi het die opsie om die boetes in sommige van die skuldigbevindings te betaal.

“Dit moet nog bepaal word of hy gaan betaal of nie. Op vier klagtes is daar ’n direkte tronkstraf bykomend tot ’n boete.”

Volgens hom is Babi gevonnis vir die jag van spesiaal be­skermde wild, alternatiewelik sameswering om spesiaal be­skermde wild te jag (klagte 1) met ’n boete van N$100 000 of twee jaar tronkstraf en drie jaar direkte tronkstraf. Op aanklagte 3 en 4 wat verband hou met diefstal, is hy twee jaar tronkstraf elk opgelê.

Vir klagtes vyf en ses wat verband hou met die verskaf van ammunisie en die besit daarvan, is hy gevonnis tot ’n boete van N$5 000 of tronkstraf van ’n jaar. Hy is ook ongeskik verklaar om vir vier jaar ’n wapen te besit. Babi is beboet met N$30 000 of twee jaar tronkstraf vir wanbetalings wat verband hou met klagtes 11, 12 en 18.

Volgens Muyunda hou aanklag 11 verband met rampokkery, terwyl 12 en 18 betrekking het op aanklagte van geldwassery.

“Onder klagte 17 vir die besit van beheerde wildleweprodukte, is hy met N$50 000 of drie jaar tronkstraf beboet sou hy nie betaal nie. Vir klagte 19 vir ’n poging om ’n korrupte praktyk te pleeg, was die vonnis ’n boete van N$20 000 of tronkstraf sou hy nie die boete betaal nie.”

Babi kan binne 14 dae teen hofuitspraak appélleer.

“Die ministerie verwelkom die uitspraak omdat ons voel dit verteenwoordig die aard van die misdade wat gepleeg is. Dit is ons hoop dat dit as afskrikmiddel vir ander dien om soortgelyke misdade te pleeg.”

Babi word verbind met ten minste drie aparte gevalle van stropery wat saamgevoeg is vir sy verhoor wat in Augustus in Gobabis begin het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.