Namibië het gister, met onmiddellike effek, alle invoere uit Suid-Afrika van varke en onverwerkte varkprodukte asook gras- en lusern-invoere opgeskort.

Terugkerende speenkalflorries sal ook nou eers ontsmet word voor dit Namibië mag binnekom.

Hierdie en ander maatreëls is nou by die bestaande verbod op invoere van diere met gesplete hoewe en hul produkte bygevoeg.

Dit is weens die voortslepende uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika, met ses provinsies waar die siekte onlangs opnuut kop uitgesteek het.

Boonop moet alle grensposte met Suid-Afrika nou van voetbaddens voorsien word, terwyl nog amptenare na grensposte ontplooi word om seker te maak voertuie word behoorlik vir enige verbode produkte deursoek.

Terwyl ’n verbod op die invoer van diere met gesplete hoewe en rou vleis vanaf Suid-Afrika sedert die aanvang van die uitbreking van krag is, het die ministerie nou ook afgekondig dat selfs embrio’s en semen nie ingebring mag word nie, asook “enige ander materiaal wat ’n potensiële bron van infeksie kan wees”.

Dr. Albertina Shilongo, hoof-veeartsenybeampte in die direktoraat veeartsenydienste (DVS), het beesprodusente gelyk gegee wat hul kommer oor die situasie teenoor Republikein uitgespreek het.

“Ons is opreg besorg daaroor. Ons is bekommerd,” het sy gesê.

“Ons is ook besorg oor die vragmotors wat terugkeer van Suid-Afrika nadat hulle speenkalwers by dié buurland se voerkrale afgelaai het. Ons wil seker maak die vragmotors wat na Namibië onderweg is, word in Suid-Afrika ontsmet voor hulle terugkeer.

“Dit is net ʼn beskermingsmeganisme.”

Sy het ook gesê varkvleis-invoere is tot dusver gedoen van ʼn gebied in Suid-Afrika wat as vry van bek-en-klouseer beskou is, maar dat dit opgeskort word totdat sekerheid verkry is dat die gebied nie enige risiko’s inhou nie.

Sy sê varke is ewe vatbaar vir bek-en-klouseer.

GRENSPOSTE

“Ons het beamptes ook op grondvlak op onder meer Keetmanshoop en Karasburg en op die suidelike grensposte – hulle kyk dat daar nie enige oorgrensbeweging van lewende hawe plaasvind nie. Dit is net ’n veiligheidsmaatreël.”

Sy sê volgens die beamptes is daar nie werklik tekens van diere wat oor die grens beweeg nie, danksy die geografiese eienskappe van die grenslyn.

“Ons hou egter ons pols op die situasie, ons sit nie stil nie.

“Ons is ook bekommerd oor die kleiner grensposte wat vandeesweek tussen ons en Suid-Afrika heropen het. Dit is Mata-Mata, Velloorsdrift, Sendelingsdrift en Klein Manasse.

“Ons het nie veeartsenybeamptes by dié grensposte nie. Ons sal saam met die polisie werk om voertuie wat inkom vir enige diereprodukte te deursoek – net om die risiko te verminder vir die siekte om na Namibië te versprei,” het Shilongo gesê.

Sy het verduidelik sedert bek-en-klouseer in Februarie 2019 in Limpopo in Suid-Afrika uitgebreek het, het dit reeds na verskeie van dié land se provinsies versprei.

“Toe reeds het Namibië ’n verbod op die invoer van vars vleis asook diere met gesplete hoewe vanaf die buurland geplaas. Dit is steeds van krag,” het sy gesê.

SUID-AFRIKA

Suid-Afrika ervaar tans 110 verskillende aktiewe uitbrekings van bek-en-klouseer in die gebied wat voorheen as ’n bek-en-klouseer vrye sone beskou is, volgens ʼn verslag wat die Suid-Afrikaanse departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling Vrydag vrygestel het.

“Die eerste hiervan het in Mei 2021 in KwaZulu-Natal begin, met die tweede wat in Maart vanjaar in Limpopo voorgekom het – in ’n bek-en-klouseer vrye sone. Dit is opgevolg deur ’n derde uitbreking, ook in Maart, in Noordwes, wat intussen versprei het na die Vrystaat, Gauteng asook Mpumalanga,” verduidelik dr. Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid, in dié verslag.

Suid-Afrika het intussen ook verskeie beheermaatreëls ingestel, wat insluit ’n verbod op die beweging van vee asook inentingsprogramme teen die siekte.

VERSPREIDING

Shilongo het in ’n kennisgewing gewaarsku dat die bek-en-klouseer-virus in alle uitskeidings van siek diere gevind word.

“Die diere asem ook groot hoeveelhede van die virus uit, wat ander diere kan aansteek – deur die asemhalingskanale en mond.

“Selfs diere wat gesond geraak het van die siekte, kan soms steeds die virus dra en nuwe uitbrekings veroorsaak.”

Sy het verduidelik terwyl mense nie die siekte kan aansteek nie, kan dit maklik versprei word tydens kontak tussen diere, die eet en drink van besmette produkte soos vleis en melk, kunsmatige inseminasie met besmette semen, besmette klere, skoene, toerusting, krale, geboue of voertuie asook besmette items soos hooi, voer en water, asook met behulp van wilde buffels.

Daar is egter geen verbod op die invoer van gekookte, geprosesseerde produkte van diere met gesplete hoewe nie. Melk en melk-gebaseerde produkte, verwerkte velle en trofees kan ook steeds ingevoer word.

PRODUSENTE

Terwyl verskeie Namibiese produsente intussen hul kommer oor die risiko van die uitbreking van bek-en-klouseer in die buurland uitgespreek het, veg Suid-Afrikaanse produsente ‘n verbete stryd om die siekte te probeer hok slaan. Op Senekal, wat erg deur die siekte geraak is, het landbouprodusente onlangs ’n dringende vergadering belê.

Die produsente het besluit om ’n forum vir bek-en-klouseer te stig vir beter koördinasie. Kenners het tydens die geleentheid gesê hulle vermoed veral mense is verantwoordelik vir die verspreiding van die virus na verskeie plase in hul omgewing, “omdat die virus glo maklik deur voertuie en mense versprei word”.

Op plase waar diere met gesplete hoewe positief vir die virus toets, word alle diere ingeënt en gebrandmerk en ná ses weke word die hele kudde geslag.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.