Veeboere se insetkoste hou aan om te styg, met die jongste statistiek wat toon tussen die eerste en tweede kwartaal van 2022, was landbou-inflasie 4,9%.

Sedert die tweede kwartaal van 2021 het jaarlikse landbou-inflasie met ʼn reuse 19,6% geklim – die hoogste in tien jaar, het die Namibië Landbou-unie (NLU) in sy jongste nuusbrief gesê.

“Sedert die tweede kwartaal van 2021 het die koste van brandstof met 57% gestyg, veevoer met 29,2%, dieregesondheid met 16,1% en voertuigherstelwerk met 13,1%.

“Die kumulatiewe wêreldwye uitwerking van olie- en brandstofpryse, sowel as die swak prestasie van die Namibiese dollar teenoor buitelandse geldeenhede, plaas ’n groot insetkostelas op Namibië se veeboerderye,” het die NLU gesê.

VEEPRYSE

Die totale geweegde beesprys het effens verbeter, met 2,6% persent, alhoewel dit ’n afname is in vergelyking met die vorige kwartaal se groei van 10%.

Die styging in beespryse is grootliks te danke aan ’n styging in slagpryse van 12,6% op ’n jaargrondslag.

Speenkalfpryse het met 5,6% tot onder dié van 2021 gedaal. Uitgedruk as ’n persentasie van die slagprys, het die speenkalfprys onder die langtermyngemiddeld van 65% gedaal. Dit het in die tweede kwartaal van 2022 op 60,1% gestaan.

Skaappryse het met 9,4 persent op ʼn jaar-tot-jaarbasis verbeter, met ‘n skerp styging van 13 persent in die eerste helfte van 2022, terwyl varkvleispryse met 2,8% gedaal het.

VERWAGTING

Tog het mnr. Desmond Cloete, hoofbemarkingsbeampte by die Vleisraad van Namibië, onlangs aan Republikein gesê alhoewel plaaslike beespryse op veilings nie verlede maand kop opgetel het, soos wat aanvanklik verwag is nie, heers daar steeds optimisme dat dit binnekort sal gebeur – veral vanweë probleme soos bek-en-klouseer in Suid-Afrika.

Cloete het bygevoeg dat die beesbedryf sterk aan die herstel is ná die verwoestende droogte van 2019.

“Ons sien dat veilings baie meer beeste bied – veral die groot veilings op plekke soos Gobabis, Otjiwarongo en Grootfontein.

“Daar was baie meer speenkalwers op die veiling. Julie is mos maar tradisioneel die maand vir speenkalwers, maar die statistiek toon dat die bedryf besig is om te herstel,” het hy gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.