Die Paasnaweek is ’n betekenisvolle tydperk vir Christene. Terwyl Christus se opstanding uit die dood met blydskap verwelkom word, is dit egter ook ’n tyd van hartseer herinneringe vir vele mense wat hul geliefdes aan die dood moes afstaan as gevolg van padongelukke gedurende dié tydperk.

Elke sterfte op ons paaie is een te veel. Die aantal mense wat hul lewens op ons paaie verloor as gevolg van die kombinasie van spoed en drank is skrikwekkend en betreurenswaardig.

Iemand het dit onlangs so gestel. “Daar bestaan nie ’n ding soos verantwoordelike alkoholgebruik wanneer jy weet jy gaan jouself agter die stuur van ’n voertuig bevin nied. Een enkele dop is te veel en kan verreikende gevolge meebring. Hou eenvoudig jou lippe weg!”

Gedurende die Paasnaweek van 2021 het 16 mense in padongelukke gesterf. Ongelukke het met 289% (vanaf 16), beserings met 352% (vanaf 27) en sterftes met 300% (vanaf vier) toegeneem vergeleke met syfers vir 2020.

Die coronavirus het gewis ’n beduidende rol gespeel ten opsigte van die aansienlike vermindering in padongelukke wat in 2020 ervaar is.

Mense was mos ingehok. Hulle kon nie ry nie en dis een van die hoofredes waarom minder ongelukke op ons paaie plaasgevind het. Dit maak sin!

Nou is die beperkinge verwant aan die coronavirus iets van die verlede en na verwagtinge sal ons paaie uiters besig wees. Die uitspattige stygings in die petrolprys kan heel moontlik bydra dat vele egter steeds met Jan Tuisbly se karretjie ry.

Eben Platt, die munisipale verkeershoof van Walvisbaai, sê prontuit die probleem lê duidelik by die ingesteldheid van die gemiddelde bestuurder.

“Die toename in reisigers lei tot ophopings by padblokkades en plaas druk op die paaie. Ongeduldige, roekelose, dronk of nalatige bestuurders veroorsaak op hul beurt ongelukke. Bestuurders vat ook onnodige kanse, wat kop-aan-kop botsings veroorsaak.”

Dis onverskoonbaar wanneer ’n selfsugtige padgebruiker met sy eie en die lewens van ander dobbel.

So, vir dié wat die pad gaan vat die Paasnaweek is die boodskap duidelik: “Die pad beweeg nie, maar voertuie beweeg wel en agter elke stuurwiel is ’n mens in beheer.”

Vertrek eerder vroegtydig na jou bestemming sodat jy nie hoef te jaag nie, beplan jou roete vooraf en pas die padreëls toe. Let op die spoedgrense en handhaaf dit. Maak seker jou voertuig en sleepwa is padwaardig.

En vir julle wat kus toe kom wees, gewaarsku, die ‘booze bus’ wag!

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.