’n Studie deur die skaapvleissektor toon dit sal beide haalbaar en winsgewend wees om verwerkte skaapvleis vanaf Farmers Meat Market (FMM) na die buiteland uit te voer, mits sekere voorvereistes binne die sektor nagekom word.

Tydens die studie is CIF-markte, die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Turkye, Noorweë en China asook groothandelmarkte in Noorweë, Litaue en Nederland as die mees winsgewende geïdentifiseer.

CIF-markte verwys na lande wat van ’n internasionale verskepingsooreenkoms gebruik maak waar die verkoper verantwoordelik is vir die verskepingskoste, versekering en vragkoste terwyl ’n besending in transito is.

Die verwesenliking van die uitvoere vereis egter doelgerigte stappe, sodat die FMM heraansoek moet doen om teen Junie vanjaar uitvoersertifisering te kry en ook ’n nuwe sakeplan moet optrek. Die abattoir se deure moet teen September oopmaak vir uitvoere na Botswana en Suid-Afrika, maar die fokus sal op die Noorweegse mark val om teen Maart 2023 die uitvoerkwota van 400 ton te kan benut.

Die doel is ook om teen September 2023 marktoegang tot China en die VAE vir Namibiese skaapvleis te verkry.

AGTERGROND

Die aanbevelings kom nadat skaapprodusente tydens streekvergaderings van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) in 2020 gesê het dit is ’n risiko om op ’n enkele groot mark te fokus, naamlik die lewende uitvoer van skape na Suid-Afrika.

Daar is toe besluit dat ’n studie gedoen moet word om ’n alternatiewe, volhoubare mark in Namibië te vestig vir die uitvoer van skaap na internasionale markte – binne ’n ongereguleerde omgewing.

Die kernvraag was of ’n uitvoer­abattoir in ’n ongereguleerde omgewing volhoubaar ’n hoër prys vir die produsent kan betaal as wat hy tans in ander markte kry.

Die navorsings het bestaan uit skaapprodusente wat deur onder­skeie streeklandbou-unies benoem is, asook die LPO en Hartlief.

’n Landbou-ekonoom, ’n markspesialis en ’n ouditeur is aangestel as konsultante wat die operasionele koste van FMM oor die laaste tien jaar en internasionale markte – wat beide Europa en die res van die wêreld insluit – moes bestudeer.

MARKONTLEDING

“Markte soos Turkye, die Europese Unie en Noorweë blyk met die eerste oogopslag die mees winsgewende te wees, maar hierdie markte kom met groter insette en regulasies,” verduidelik die Namibië Landbou-unie (NLU) in sy jongste nuusbrief.

“Noorweë beperk Namibië, Eswatini en Botswana tot ’n 400-ton invoerbelastingvrye kwota. Die land wat eerste produkte kan bied, kan die kwota benut. Noorweë is ook beperk tot beenlose snitte en ’n kwota van 400 ton wat slegs ongeveer 40 000 skape per jaar verteenwoordig.

“As die kwota ten volle benut is, is invoerbelasting betaalbaar. Dit is sowat 69,26 Noorweegse krone, wat gelykstaande is aan ongeveer N$164,90 per kilogram.

“Turkye verras met winsgewende pryse, maar reguleer hul mark met invoerbelasting van tussen 100% en 200%.

VOORVEREISTES

Volgens die studie sal die suksesvolle benutting van die nuwe uitvoermarkte egter daarvan afhang dat die regering onder meer die kleinveebemarkingskema heeltemal afskaf. Die skema is tans net “opsy gesit”, wat nie vir beleidsekerheid in die sektor sal sorg nie.

Verder moet ’n nuwe sakeplan vir FMM opgetrek word om bykomende kapitaalinvestering en opbrengs op kapitaal te bepaal en die volhoubaarheid van die FMM-abattoir te verseker.

Ander voorvereistes is ’n bemarkingstudie om voorkeurmarkte binne die geïdentifiseerde markte te identifiseer asook ’n langtermynverbintenis van produsente om die inisiatief te ondersteun.

“Die sukses van die inisiatief sal afhang van die regte produk en konsekwente deursetgetalle,” sê die NLU.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.