In die verhoor van twee mans wat van die moord op ’n bejaarde egpaar in 2018 beskuldig word, het een van die beskuldigdes se vriendinne vandeesweek in die hof getuig.

Die beskuldigde het glo aan haar gesê dat hulle Brunhild Riedel (66) oorval en Armin Siegfried Riedel (68) vermoor het.

Die Riedel-egpaar is op hul plaas Grünfeld in die Gobabis-omgewing vermoor en die plaashuis is afgebrand met hulle liggame binne-in.

Loretta Hoases het Maandag in die hoërhof in Windhoek getuig dat een van die beskuldigdes, Bernardus Afrikaner, aan haar gesê het dat hy in die kombuis weggekruip het terwyl die “ou vrou” besig was om die hoenders toe te maak.

Toe sy die kombuis binnegekom het, het hy haar gegryp en glo na die slaapkamer gesleep waar hy haar seksueel aangerand het. Hy het na bewering sy medebeskuldigde, Salathiel Unaeb, met ’n vuurwapen gedreig en hom gedwing om haar ook te verkrag.

Volgens haar getuienis het Afrikaner haar vertel dat Armin toe die huis binnegekom het, waarna die beskuldigdes hom glo gegryp het.

Hulle het na bewering geld geëis. Hy het glo gesê dat daar nie geld in die huis is nie en hulle het hom doodgeskiet.

SAAK GISTER HERVAT

Die verrigtinge het gister voortgeduur met die getuienis van Anna Jacobs wat destyds saam met een van die beskuldigdes gewoon het.

Sy het getuig dat sy geslaap het toe een van die vroue haar wakker gemaak het en van die brand by die plaashuis ingelig het. Daarna het Afrikaner glo die kamer binnegekom.

“Hy wou onder die kombers inklim, maar ek het vir hom gesê om op te staan sodat ons kan gaan help,” het sy getuig.

GESTEELDE GOEDERE

Hoases het Maandag ook getuig dat een van die beskuldigdes vir haar gesê het dat hulle items uit die plaashuis gesteel en dit weggesteek het. Daarna het hulle glo terug na die huis gegaan en dit aan die brand gesteek.

Haar getuienis het verder gehandel oor die beweerde gesteelde goedere wat Afrikaner glo vir haar gesê het hulle uit die plaashuis verwyder het en hy het glo aanwysings gegee waar die goedere weggesteek is.

Sy het die inligting na bewering aan ’n polisie-inspekteur gegee wat daarna die items gekry het.

KLAGTE

Afrikaner en Unaeb staan tereg op klagte van moord, verkragting, roof met verswarende omstandighede, brandstigting, dwarsboming van die gereg, aanranding deur dreigemente en klagte wat verband hou met die oortreding van die wapen- en ammunisiewet.

Die oortreding van die wet op wapen en ammunisie hou verband met die bewering dat die beskuldigdes ’n vuurwapen en ammunisie sonder ’n lisensie gebruik en ’n vuurwapen aan ’n ander persoon sonder ’n lisensie verkoop het.

Die aanrandingsklag hou verband daarmee dat hulle na bewering ’n medeplaaswerker – wat glo ’n deel van die aanval aanskou het – gedreig het om stil te bly oor wat hy gesien het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.