Die growwe wanbestuur by Meatco is wat glo gelei het tot ’n voortgesette ondersoek na sy uitvoerende hoof, Mwilima Mushokabanji, en die maatskappy se bestuurslui.

Die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, het bevestig dat ’n ondersoek na die bestuur van Meatco en sy uitvoerende hoof gelas is.

Hy het gesê dit volg op ’n besluit wat die kabinet in Augustus verlede jaar geneem het weens die growwe wanbestuur van die maatskappy.

Schlettwein het gesê die voortgesette ondersoek sal aanbevelings maak oor die oplossings wat geïmplementeer moet word.

’n Ontleding deur die Bank of Namibia (BoN) het getoon dat Meatco vleisprodukte wat hy van 2018 tot 2023 ter waarde van N$4 miljard uitgevoer het, goedkoper verkoop het.

Data vir die afgelope ses jaar – vanaf 2018 tot 2023 – het volgens die ontleding aangedui dat Meatco 53,3 miljoen kilogram vleis teen N$2,1 miljard uitgevoer het.

Dit het egter verwys na pryse van beesvleisuitvoere na Nieu-Seeland, met Schlettwein wat bevestig het dat Namibië nie beesvleis na dié land uitvoer nie.

Trouens, hy sê dat Nieu-Seeland self ’n beesvleisuitvoerland is.

Schlettwein het egter gesê Meatco se probleem is nie marktoegang nie, maar wanbestuur.

Hy het opgemerk dat boere tans na kleiner uitvoer-abattoirs beweeg, wat in wese eintlik sleg is vir die land aangesien speenkalwers in plaas van beesvleis uitgevoer word.

“Ons voer ’n rou produk uit in plaas van verwerkte produkte wat tot die waardeketting bydra. Maar boere kan nie kwalik geneem word nie, want hulle kry beter pryse as by Meatco.”

Meatco voer aan volgens sy rekords het die maatskappy inkomste van meer as N$6,5 miljard vanaf 2018 tot 2023 gegenereer, die huide uitgesluit.

“Dus, indien die verslag beweer dat Meatco N$2,1 miljard gegenereer het, wat minder as 50% is van die totale inkomste wat deur alle vleisuitvoerders gegenereer word, is die korrekte syfer van N$6,5 miljard in ooreenstemming met ons verklaring dat Meatco die meeste inkomste vir die veebedryf genereer,” het Mushokabanji gesê.

Hy het ook gesê Meatco is nie goedgekeur nie en het nog nooit beesvleis aan die Nieu-Seelandse mark verkoop nie.

“Sover ons weet, is die Nieu-Seelandse mark nie oop vir die invoer van Namibiese beesvleis nie.”

Mushokabanji het gesê dat in Meatco se geval, sy algehele realiteit gedryf word deur die maksimum opbrengs per snit per mark wat behaal word deur verskillende snitte aan verskillende markte te verskaf.

“Die Suid-Afrikaanse mark verbruik hoofsaaklik laewaarde-produkte, soos afval van Meatco, terwyl dit vir sommige van die genoemde mededingers hul premiummark is wat hul hoëwaarde-produkte ontvang. Dit is dus nie reg om markte te vergelyk sonder om te ontleed wat elke mededinger daarin bied nie,” het hy gesê.

’n Reeks belangrike bestuurders het onlangs by die maatskappy bedank.

Bekommerde Meatco-werknemers het verlede jaar in Junie aan die minister van finansies en openbare ondernemings, Ipumbu Shiimi, geskryf en gevra vir dringende optrede en om ’n ondersoek van stapel te stuur.

Volgens die brief oortree die uitvoerende hoof voortdurend verskeie maatskappybeleide, ten minste twee wette wat op Meatco van toepassing is, asook finansiële ongerymdhede en onbedagsaamheid (imprudence) wat hy teen Meatco gepleeg het. Daarom eis Mushokabanji glo meer geld van die maatskappy as waarop hy geregtig is.

“Hy ‘awol’ en gee nie ten volle rekenskap van verlof nie.”

Die werknemers het verder beweer dat Mushokabanji strategiese sake onderneem sonder om meeste van die bestuur te betrek, die direksie mislei en dat hy versuim om in die beste belang van Meatco op te tree.

“Werknemers word geïntimideer sodat hulle te bang is om hul pligte uit te voer, veral oor die uitvoerende hoof se uitgebreide reise, reis- en verblyfeise, kredietkaartgebruik ensovoorts.”

Hulle het voorts gesê dat hy maatskappyhulpbronne misbruik en versuim om behoorlik rekenskap te gee van beesvleisbokse wat deur sy kantoor uit maatskappyvoorraad geneem is.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.