Die eerste vroue-assistentlanddros in Namibië, me. Rina Horn, het onlangs afgetree.
Sy het in 1975 aan die Hoërskool Wennie du Plessis op Gobabis gematrikuleer en het drie jaar later haar B.Juris-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf.
Sy was vanaf 1979 tot Maart die volgende jaar ’n staatsaanklaer, waarna sy die pos as die eerste vroue-assistentlanddros in Namibië op Okahandja beklee het.
In April 1982 was sy die eerste vroue-distrikslanddros op Okahandja. Skaars ’n jaar later is sy na Windhoek verplaas en in 1994 is sy as die eerste vroue-hooflanddros in Windhoek aangestel.
Sy sluit in Julie 2002 by die Namibiese inligtinghofstelsel se elektroniese ontwikkelingspan aan en onttrek as landdros. Sy hervat haar pligte as hooflanddros in Windhoek in 2007 en gedurende 2009 word sy as die afdelingslanddros vir die Windhoek-afdeling aangestel. ’n Pos wat sy tot en met haar aftrede ’n paar weke gelede beklee het.
Horn het vir ses jaar op die landdroskommissie gedien, asook verskeie komitees en statutêre liggame, onder meer as voorsitter van die dranklisensiekomitee en kommissaris van kinderwelsyn.
Tydens haar amptelike afskeid, het hoofregter Peter Shivute gesê Horn se bydrae tot die groei en omvorming van die Namibiese regbank spreek vanself en word weerspieël in die talle sleutelprestasiegebiede waarvan sy deel was.
Dit sluit onder meer in die instelling van die Mungunda-landdroshof, wat uiteindelik haar basis geword het; die stigting van die verkeershof in Simeon Shixungilenistraat; die onlangse konstruksie en inwyding van Seeis se periodieke hof; die instelling van die geslagsgebaseerde geweld-vriendelike hof; die ontwikkeling en implementering van die ministerie van justisie se saakbestuurstelsel (NAMCIS) en die ontwikkeling van die eerste verwysingshandleiding vir landdroste.
‘STANDVASTIG’
“Me. Horn het in die loop van haar regsloopbaan standvastig gebly in die eed wat sy as landdros afgelê het, naamlik die handhawing en beskerming van die Grondwet as die hoogste reg en die fundamentele menseregte en vryhede wat daarin verskans word, en om geregtigheid te laat geskied aan alle persone ooreenkomstig met die Grondwet en die wet sonder vrees, guns of vooroordeel,” het hoofregter Shivute gesê.
“Die eienskappe – en persoonlike eienskappe – wat ek hierbo beskryf, het nie net in haar optrede gewys nie, maar ook in haar regterlike werk. Sy het almal wat met haar in aanraking gekom het met respek en waardigheid behandel. Sy was diep besorg oor die verskaffing van vinnige en kwalitatiewe geregtigheid aan die mees kwesbare lede van ons samelewing.”
Hy het voorts gesê Horn het saam met regterlike beamptes ’n sterk grondslag vir die respek van die oppergesag van die gereg gelê asook geregtelike onafhanklikheid, veral op die laer howevlak.
“Sy kan met reg beskou word as die institusionele geheue van die landdroshowe in die Khomasstreek en is ’n inspirasie en mentor vir jong regterlike beamptes en personeellede. Sy is ’n pionier wat die regbank en die mense van Namibië met toewyding en ’n diep burgerlike plig gedien het.
“Wat my die meeste van me. Horn op ’n persoonlike vlak beïndruk, is dat sy altyd ferm, regverdig, reguit en konsekwent was in die uitvoering van haar pligte. Sy is hardwerkend, eerlik, vriendelik, betroubaar, oopkop, selfgedissiplineerd en altyd gereed en gretig om by te staan en leiding te gee wanneer en waar dit ook al nodig is.”
‘WONDERLIKE ERVARING’
Op haar beurt het Horn haar opregte dank uitgespreek vir die tyd wat sy in die howe en as landdros gedien het.
“Ek was vir 47 jaar in die regsbedeling waarvan ek 42 jaar ’n landdros was en die wonderlike ervaring gehad het om op alle vlakke te werk.
“In hierdie tyd het ek die vreugdes en die pyn in die oë van litigante gesien, wat die hofsale gebruik in hul reis na geregtigheid; wat hoewel gereeld taamlik gesloer het, nooit ontken word nie. Alles wat ek kon doen, was deel van my plig en verantwoordelikheid as landdros.
“As vrou het ek myself gedurig afgevra oor die sogenaamde glasplafon – of ek dit ooit reggekry het om dit te breek? Die lewe het my egter geleer dat die ‘glasplafon’ nie daaroor gaan om by ’n posisie uit te kom – om ’n regsgraad te verwerf, ’n landdros te word of om as ’n regter, selfs hoofregter aangestel te word nie. Die glasplafon word gebreek wanneer jy ’n werklike verskil maak in wat jy ook al begin doen; wanneer jy ander na aan jou ophef en hulle bemagtig; wanneer jy hulle in staat stel om voor jou te stap.
“Ek is dankbaar vir die Almagtig dat Hy my hierdie seën gegee het om op een of ander manier by te kon dra tot ons pragtige land.”
’N HULDEBLYK
Volgens haar dogter, Mar-Jorie Theron, het haar ma vir die geregtigheid van die Namibiese kind gelewe.
“Sy is van ons kinderdae af vir ons ’n inspirasie. Sy het ons geleer om nooit op te gee nie en ons drome na te jaag,” vertel sy en voeg by dat hulle van kleins af geleer is om altyd na aan die Here te wandel en krag in Hom te vind.
Vir Horn bly dit belangrik om ’n beter mens te probeer wees, ongeag die situasie waarin jy jouself bevind.
“My ma se inspirasie het verder gestrek as toe ek ’n dogtertjie was. Haar voorbeeld het my my hele lewe bygebly, nou nog. In my beroep, in my huwelik en as ’n ma,” vertel sy.
“Hierdie [loopbaan] was vir my ma ’n roeping. Dit was om ’n Namibiër se lewe te verryk deur geregtigheid toe te pas. Haar passie vir kinders bly merkwaardig en sy het altyd, ongeag hoe moeilik die omstandighede was, altyd in die beste belang van die kind opgetree.”
Haar ander dogter, Michelle Vink, deel hierdie sentiment.
“Sy inspireer my om ander te help, want dit is waarvoor sy lewe, en dat kommunikasie in my huwelik die belangrikste is, asook die driehoek-verhouding met God,” vertel sy.
Oor haar toekomsplanne, het Horn gesê om af te tree, is vir haar ’n nuwe begin.
“Dit sal vir seker ’n moeilike oorgang wees wat ’n groot verandering in my lewe sal meebring. Maar ek het al baie daaroor nagedink en ek sien uit na hierdie nuwe tyd in my lewe.”
[Bron – Republikein]