Die Suid-Afrikaanse regering se besluit om vir 21 dae die verskuiwing van beeste landwyd te verbied, sal gevolge vir verbruikers, boere, die rooivleisbedryf en die plattelandse ekonomie inhou.

Daar is tans 116 uitbrekings van bek-en-klouseer op plase, in voerkrale en in kommunale gebied in KwaZulu-Natal, Limpopo, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat.

Thoko Didiza, minister van landbou, het die verbod Dinsdag met onmiddellike ingang afgekondig.

’n Grasietydperk van 48 uur is ingestel vir beeste wat by veilings, skoue of in transito is.

Boere kan nie beeste op veilings verkoop of beeste na weiding op ander plase skuif nie, en voerkrale kan vir drie weke nie beeste aankoop om hulle slaggereed te kry nie.

“Ek glo die minister kon dit anders gehanteer het en saam met die bedryf ’n besluit geneem het; ons is net ingelig dat ’n besluit geneem is en oor wat gedoen gaan word,” sê Dewald Olivier, hoof van die Suid-Afrikaanse voerkraalvereniging (Safa).

Die verbod van 21 dae sal waarskynlik nie nou ’n tekort aan beesvleis skep nie, maar dit sal wel ’n invloed op die mark hê, sê hy.

Hy verwag dat speenkalfpryse effens sal daal, maar net die tyd sal leer met hoeveel.

“Voerkrale koop in Augustus beeste aan om in Desember te slag en ek verwag daar sal in Desember ’n effense tekort aan beesvleis wees.”

Olivier sê hoewel die besluit eensydig geneem is, verwelkom Safa dit dat die minister besluit het om op te tree.

“Dit is baie drasties, maar dis tyd dat ons drasties begin optree. Drastiese maatreëls is nou nodig.”

Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO), sê hoewel sekere boere verliese gaan ly, kan die skade veel groter wees as die siekte nie bekamp word nie.

Hy sê die bekamping van die siekte sal ook internasionale handelsvennote gerusstel.

Schutte sê daar sal in die toekoms waarskynlik inentings gedoen moet word om te verseker dat die siekte nie so maklik versprei nie.

Hy benadruk dat geen diere nog weens die virus dood is nie.

Soos Olivier glo hy nie die verbod sal verbruikers erg raak nie, maar hy meen ook dat daar later ’n effense tekort aan beesvleis kan wees.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, meen ook die regering het die regte besluit geneem.

“Die situasie is van so ’n aard dat dit die veebedryf ernstige skade kan berokken,” sê Van Zyl.

Hy meen die ingryping sal wel ernstige polisiëring vereis. “Die staat sal dit moet polisieer en seker maak mense kom die reëls na. Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op hulle,” sê Van Zyl.

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, glo die regering moes lankal ingegryp het.

“Die regering moet baie vinniger optree. Daar word te lank gewag. Die gebiede waar die siekte aanvanklik voorgekom het, moes dadelik afgesper geword het en daar moes dadelik opgetree gewees het om dit te keer. Die situasie het heeltemal te ver gegaan,” sê hy.

Volgens die vervoerverbod mag beeste net na abattoirs vervoer word of vir rituele slagting.

“Dit sny die inkomste van afslaers heeltemal af. Ons bemarkers werk 99% op kommissie,” sê Lukas Kleynhans van Vleissentraal in Bethlehem.

Hy sê die ekonomie van plattelandse dorpe kan erg skade ly sou so ’n verbod lank duur.

Kleynhans sê stoetboere reël reeds ’n jaar vooruit om veilings te hou en die datums word deur die telersgenootskappe goedgekeur. Dié veilings gaan voort omdat die stoetboer die beeste sal aanhou versorg totdat die verbod opgehef is en die koper sy beeste mag skuif.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.