Selfoonoperateurs gaan voortaan verplig word om al hul kliënte se SIM-kaarte te registreer en alle relevante inligting te bekom vóór die verkoop en aktivering daarvan, terwyl hulle ’n tydperk van 12 maande sal hê om die registrasie van bestaande kliënte af te handel.

Die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) het Dinsdag ’n nasionale bewusmakingsveldtog vir die registrasie van SIM-kaarte van stapel gestuur om Namibiërs aan die noodsaaklikheid van dié registrasieproses te herinner.

Dr. Peya Mushelenga, die minister van inligting en kommunikasietegnologie, het in ’n toespraak tydens die geleentheid gesê reeds meer as tien jaar het verloop sedert die wetgewing hiervoor afgekondig is, “wat die dringendheid daarvan beklemtoon om die voortdurend veranderende tegnologiese landskap te reguleer”.

Namibië is een van twee Afrikalande waar die registrasie van SIM-kaarte tot dusver nog nie verpligtend was nie.

“Teen April vanjaar het die land reeds meer as twee miljoen SIM-kaart-gebruikers gehad wat almal die voordele van die tegnologie benut, maar ook kwesbaar is weens die gebrek aan ’n doeltreffende registrasiestelsel vir SIM-kaarte.

“Daarom bestaan daar ’n behoefte vir beter regulering om kliënte se belange te beskerm, soos dit in 50 ander Afrikalande en 157 lande wêreldwyd gedoen word, waar die registrasie van SIM-kaarte tydens die aankoop daarvan verpligtend is,” het Mushelenga gesê.

“Ek is bly Namibië sluit by die res van die wêreld aan om seker te maak SIM-kaart-gebruikers word geregistreer,” het hy bygevoeg.

GEEN SPIOENASIE

“Alle verskaffers van telekommunikasiedienste is verplig om die data te stoor en om aan enige relevante versoeke van wetstoepassingsagentskappe te voldoen,” het me. Emilia Nghikembua, uitvoerende hoof van Cran, gesê.

Die registrasie van SIM-kaarte sal wetstoepassers in staat stel om kommunikasie wettiglik te onderskep in gevalle waar enige kriminele aktiwiteite by hulle aangemeld word.

“Die formulering van ’n wetsontwerp oor kubermisdaad is in ’n gevorderde stadium en sal mettertyd vir openbare besigtiging blootgelê word, wat ons kuberveiligheidsraamwerk sal komplementeer,” het Mushelenga gesê.

Hy het beklemtoon dit is misleidend om te sê SIM-kaart-registrasie beteken dat jy afgeluister kan word.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die Wet op Kommunikasie van 2009 nie die goedkeuring gee om kommunikasie te onderskep nie – dít kan slegs deur die strafproseswet of die sentrale intelligensiedienswet gemagtig word,” sê Mushelenga.

Die registrasie van SIM-kaarte moet dus nie met onderskepping verwar word nie – iets wat slegs moontlik is wanneer ’n kriminele aktiwiteit vermoed word en die hof ’n lasbrief uitreik, het hy benadruk.

“Dit is ’n misdaad om sonder toestemming af te luister,” het hy gesê en bygevoeg kommunikasie sal slegs onderskep word om kriminele kwessies te hanteer en nie vir politieke, maatskaplike en ekonomiese aktiwiteite wat nie met kriminele aktiwiteite verband hou nie.

Hy het bygevoeg SIM-kaart-registrasie sal nie die vryheid van spraak of gebruikers se privaatheid skend nie.

“Dit gee nie aan diensverskaffers of die regering die mag om, sonder redelike gronde, op gebruikers te spioeneer nie.”

“Kubermisdaad is egter nie iets vreemd in Namibië nie. Onlangse studies deur die Unie vir Internasionale Telekommunikasie het gewys ’n behoefte bestaan dat regerings omvattende kuberveiligheidsraamwerke moet implementeer,” het Mushelenga gesê.

“Die registrasie van SIM-kaarte is een van die basiese beginsels hiervan. Die registrasie van jou SIM-kaart beskerm jou dus teen misdade en ander kwesbaarhede soos byvoorbeeld die kloning van jou SIM-kaart.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.