Die koue is hier om te bly gedurende die res van Junie en Julie, terwyl ryp sporadies tot ten minste in September en selfs in Oktober kan voorkom.

Mnr. Johan van den Berg, ’n konsultant vir die landboubedryf oor weersake, het in sy jongste weervooruitskouing van 6 Junie gesê nie veel reën word vir die res van die winter en lente in Namibië verwag nie, maar gemiddelde tot bonormale reën is moontlik vanaf November.

“Die koudste week van die winter het vanaf einde Mei tot vroeg in Junie voorgekom. In die buurland is temperature van so laag as -7,9°C op Sutherland gemeet,” sê Van den Berg.

GOEIE NUUS

Die Indiese Oseaan-dipool (IOD) sal na verwagting tussen Junie en September ’n neutrale fase betree, wat baie goed vir somerreënval in Suider-Afrika is.

“Die verwagte negatiewe fase van die IOD-indeks oor die volgende maande is ’n positiewe teken vir reën in die náwinterperiode en tesame met die La Niña-toestande, kan dit weer vir ’n bogemiddelde reënseisoen in 2022–’23 sorg,” het hy gesê.

“’n Tydjie van droogte word tussen Junie tot November verwag – wat tipies van La Niña-toestande is.”

Van den Berg sê die IOD is tans egter nog in ’n neutrale fase, maar wanneer dit negatief raak, gaan dit gepaard met koeler water in die westelike gebied van die Indiese Oseaan, teenaan die kus van Afrika, en warmer water nader aan Australië.

Dit was ook die geval in 2021, het hy verduidelik.

Van den Berg sê die waarskynlikheid dat volskaalse La Niña-toestande oor die volgende ses maande gaan aanhou, is sowat 60%, terwyl die kans dat El Niño-toestande ontwikkel, net sowat 5% is.

“Tans heers matige sterk La Niña-toestande.

“Dit is waarskynlik dat die intensiteit van La Niña-toestande vanaf Julie tot September sal verswak, maar ’n swak La Niña sal steeds voortduur. Volgens die jongste voorspellings sal dit dan vanaf vroeg in 2023 tot neutrale toestande toe terugkeer,” sê hy.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.