Terwyl weerkenners meen die kanse op reën lyk goed vir vandeesweek asook volgende week, dui die Namibiese weerkantoor se amptelike reënsyfers dat Otavi en die King Kauluma Village Dinsdag die meeste reën ontvang het – onderskeidelik 32 mm elk.

Dit is soos gemeet gisteroggend (18 Januarie) om 08:00.

Otjiwarongo het 27,2 mm reën ontvang, Okaukuejo 25,8 mm, Hohenfelde 25 mm, King Nehale Lodge 24 mm, Okahua 19 mm, Fransfontein, 17 mm, die Katima Mulilo-lughawe 14,4 mm, Oshikango 13,4 mm, Windhoek (by die weerkantoor se hoofkantoor) 11,6 mm, Otjikururume 11,5 mm en Outjo 10,2 mm.

Op die Facebook-groep Reën in Namibia het lede laat weet dit het Dinsdag 31 mm op Tsumeb by die lughawe gereën, 27 mm op Okahandja, 23,8 mm in Eros, Windhoek en 12 mm elders in die hoofstad. Tsumeb het glo sedert die afgelope Sondag reeds meer as 70 mm reën gehad.

VOORUITSIGTE

Die nieregeringsorganisasie LandWater, wat satellietfoto’s wetenskaplik ontleed en interpreteer, het oor die afgelope dae op Twitter weerkaarte gedeel oor hoe vogtoestande veral vir die verre sentrale noordelike dele van Namibië verbeter.

Die afgelope Sondag het Landwater nog ’n kaart van ontwikkelende donderstorms oor Namibië gedeel, met die verduideliking: “Voorbereiding vir ’n pragtige nuwe week vir Namibië en ’n nog woester opvolgweek.

Die onafhanklike landbouweerkundige, Johan van den Berg, sê ook die toestande vir reën verbeter tans vir die suide van Angola asook die verre noordelike dele van die land.

“In die laaste week van Januarie kan dié weer verder suidwaarts asook in ’n suidoostelike rigting uitbrei, met die swaartste neerslae oor die noordoostelike dele van die land,” het hy gesê.

“Dit lyk asof daar veral in Februarie nog reën kan voorkom oor veral die sentrale en noordelike dele van Namibië, terwyl ons in Maart en April dalk ondergemiddelde reën sal hê.”

Van den Berg sê daar is egter nog onsekerheid oor langtermynvooruitsigte.

“Die La Niña-weerverskynsel het begin verswak, maar stadiger as wat die meeste voorspellings aangedui het.

“Oor die lang termyn sal ons waarskynlik vanaf die winter neutrale Enso-toestande ervaar, terwyl daar selfs ’n moontlikheid is dat El Niño-toestande kan intree.

Dit volg nadat die La Niña-weerverskynsel vir drie jaar lank wêreldwye weerpatrone oorheers, wat op sigself ’n ietwat ongewone verskynsel was.

Enso staan vir die El Niño-Suidelike Ossillasieklimaatspatroon en verwys na die interaksie tussen die tropiese Stille Oseaan en die atmosferiese toestande in dié gebied, wat gesamentlik ’n invloed op wêreldwye weer- en klimaatpatrone het.

TOT SIENS, LA NIÑA

’n Oorskakeling van La Niña-toestande tot meer neutrale Enso-toestande sal na verwagting tussen Februarie en April vanjaar voorkom, met ’n 82% kans dat neutrale toestande tussen Maart en Mei vanjaar sal intree.

Dit aldus die Amerikaanse Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (NOAA).

Dit stem ooreen met die Australiese Buro vir Meteorologie, wat Dinsdag in ’n klimaatsvooruitskouing gesê het La Niña-toestande duur voort in die tropiese Stille Oseaan, maar dat dit verswak het sedert dit ’n piek in die lente van 2022 bereik het.

“Alhoewel die oseaan se temperatuur onlangs warmer geraak het, bly aanwysers in die atmosfeer hoofsaaklik onveranderd en handhaaf dit steeds La Niña-vlakke,” het die buro gesê. Die buro sê verder dat neutrale Enso-vlakke teen Februarie behoort in te tree terwyl atmosferiese patrone na verwagting dieselfde sal doen.

Terselfdertyd is die Indiese Oseaan-dipool (IOD) tans neutraal.

Van den Berg het vantevore verduidelik dat La Niña dikwels vereenselwig word met “natter as gewoonlike” toestande in Suider-Afrika.

Daarteenoor gaan El Niño-toestande dikwels gepaard met ’n verhoogde risiko vir droogte en vloede oraloor die wêreld.

Een van die sterkste El Niño-verskynsels op rekord was tydens die 2015-’16-reënseisoen, wat in die 2018-’19-seisoen deur ’n swakker een opgevolg is. Dit het egter tot die ergste droogte in Namibië sedert die 1800’s gelei. Dienooreenkomstig het pres. Hage Geingob in Mei 2019 ’n noodtoestand afgekondig, wat weer in Maart 2020 verstryk het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.