Sou 15,8 miljoen hektaar grond in Namibië wat deur bos ingedring is, in die volgende 25 jaar volhoubaar uitgedun word, kan ’n geskatte N$76 miljard gegenereer word.
Sowat 45 miljoen hektaar van Namibië se grasveldsavanne word na raming deur bosindringing geraak, maar dit bied verskeie ekonomiese geleenthede vir die land.
Met bosindringing word inheemse grasse deur bosse uitgeroei. “Dit het ernstige negatiewe impakte op biodiversiteit, grond, beskikbaarheid van water, die grondproduktiwiteit en die lewensbestaan van ons mense, wat grootliks afhanklik is van die land se natuurlike savanne-ekosisteem,” het Pohamba Shifeta, minister van die omgewingsake, gesê.
Hy het gesê studies toon dat enorme ekonomiese voordele bestaan in die rehabilitasie en herstel van grond wat deur die bosse ingedring word.
Shifeta het hierdie kommentaar gelewer by die Biomass Fair Industry-beraad en die bekendstelling van die Nasionale Strategie vir die Volhoubare Bestuur van Boshulpbronne vir 2022 tot 2027.
‘Basis vir waardekettings’
Hy het gesê dat bosse gebruik kan word as basis vir waardekettings wat bydra tot verbeterde binnelandse ekonomiese ontwikkeling, waarde toevoeg tot uitvoerprodukte, en om werk en inkomste in die platteland te skep.
Shifeta het gesê as die ministerie wat verantwoordelik is vir die regulering van bosbou, doen hy ’n beroep op boere, private maatskappye en ander belanghebbendes om die geleentheid aan te gryp om grond te herstel wat deur bosindringing gedegradeer word.
“Dit is noodaaklik dat dit volhoubaar geskied, gebaseer op die toepassing van wetenskap en op waardetoevoeging. Ons moet ook verseker dat so ’n proses ons plaaslike gemeenskappe bevoordeel.”
Die minister het verder uitgebrei oor die nasionale strategie oor die volhoubare bestuur van boshulpbronne (2022–2027) en gesê dat die strategie ’n raamwerk bied om te verseker dat boshulpbronne volhoubaar en met toegevoegde waarde gebruik word.
“Dit is ook noodsaaklik om te verseker dat ons bosbeheerpogings bydra tot die bereiking van belangrike internasionale verpligtinge oor ontbossing en bebossing, gronddegradasie en verwoestyning, versagting en aanpassing van klimaatsverandering, asook die bewaring van biologiese diversiteit, soos uiteengesit in die Rio-konvensies.”
Hy het gesê aanpassing by klimaatsverandering is ’n sleutelprioriteit vir Namibië, en herstel van die land se savanne, bosbiomassabenutting en waardetoevoeging is as sleutelaanpassingsaksies in die Nasionaal Bepaalde Bydraes geïdentifiseer.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.