Die NLU betreur die aanslag op ’n bejaarde alleenvrou op ’n plaas. Geen persoon behoort onveilig te voel in ons land nie. Ons neem met kommer kennis van die voorval en is bewus daarvan dat, a.g.v. werkloosheid en toenemende armoede, insidente soos dié meer mag voorkom. Daar is egter geen regverdiging vir aanvalle op bejaarde, weerlose of enige ander mens nie. Van hierdie voorstelle is al tevore gedeel, maar bly relevant vir die veiligheid van ’n indiwidu. Die hooffokus bly maar op die beveiliging van ’n plaashuis m.b.v. ’n veiligheidsheining, honde, alarm sisteme en dies meer. Deure en hekke moet gesluit wees wanneer jy gaan slaap.

• Skakel in op u boerevereniging se bandradio’s en indien moontlik plaas die noodkanaal op u radio.
• Wees op die uitkyk vir verdagte persone en beweging van verdagte voertuie en meld dit onmiddellik by die naaste NamPol aan.
• Moenie groot hoeveelhede kontant op plase aanhou nie.
• Indien u kontant trek, wees bedag daarop dat u dalk agtervolg kan word, veral as u op verlate paaie moet ry.
• Moenie by verdagte motors wat langs die pad staan en hulp soek, stilhou indien u in besit van kontant is nie.
• Meld enige plekke wat dalk as voorkeurgebied (hot spots) vir rowers kan dien onmiddellik by die kantoor aan. Die kantoor sal dit onmiddellik deurstuur na die Namibië Toerismeraad om sodanige plekke te identifiseer en waarsku.
• Goeie verhoudinge met werknemers op plase is baie belangrik. Moedig u werknemers aan om enige verdagte persone, wat in die omgewing is, aan te meld.
• Indien u potensiële werknemers oorweeg, doen eers navraag by verwysings oor hierdie persone se rekord, veral met betrekking tot kriminele aktiwiteite.
• Indien u snags reageer op ongewenste bewegings op die werf of naby geleë paaie, wees bedag daarop dat u dalk aangeval kan word.
• Moenie altyd dieselfde roetine volg nie. Wissel dae om inkopies te doen af en indien moontlik gebruik alternatiewe roetes weg en na die plaas toe. Moet ook nie altyd dieselfde tye na die poste ry nie.
• Alle werknemers behoort hulle besoekers aan te meld en indien moontlik moet die besoekers hulle ID’s toon.
• Werknemers moet ingelig word dat hulle ook in gevaar is as hulle hekke oopmaak vir enige vreemde persone wat hulself nie kan identifiseer nie.
• Dit word aanbeveel om ’n klein hond binne die huis en een of meer groot honde buite te hou en sal dit raadsaam wees dat die honde geen kontak met enige werknemers het nie.
• As u van die plaas af wegry, moenie vir u werknemers die regte tye gee wanneer u weer terug sal wees nie. Moenie slegs een werknemer alle verantwoordelikheid op die plaas gee nie. Deel dit aan verskeie werknemers uit.
• As daar voertuie op die plaas staan, haal vonkverdelers (distributors) en vonkpropkabels uit. Maak wielmoere van wiele los – as die motor gesteel word, sal die wiel na ’n kort tyd verloor.
• As u beplan om ’n kluis te bou, bou dit teen ’n muur vas. Dra die spaarsleutel van die kluis en alle voertuigsleutels by jou. Huisbediendes vind baie vinnig die plek waar spaarsleutels gehou word.
• Wanneer u die plaas verlaat, haal die slotte uit die gewere uit en neem dit saam of steek dit goed weg. So ook die ammunisie.
• Enige gereedskap wat ’n kluis kan oopbreek, soos bv. ’n gasvlam toestel, grinder, ens. moet toegesluit of weggesteek word wanneer u die plaas verlaat.
• Poog dat iemand altyd die huis op die plaas bewoon (bv. as u ry, dat u vrou by die huis is). Indien u met vakansie gaan, kry ’n pensioenaris (as u niemand ken nie, deur die plaaslike kerk) om in die huis te bly.
• Word betrokke in u gemeenskap. Stel bure in kennis as u met verlof gaan en gee vir hulle spaarsleutels om in u huis in te kom. Lig u werknemers daaroor in.
• As vreemde voertuie by u stilhou en om hulp vra, skryf hulle registrasienommer op. U sal onmiddellik aan die optrede van die insittendes agterkom as hulle iets verberg.
• Nadat u terugkom op u plaas, wees altyd op die uitkyk vir enige veranderings (bv. ligte wat u aangeskakel het, brand nie meer nie; voordeur wat u gesluit het, is oop, ens.). Maak seker dat al u honde daar is.
• Hou alle noodnommers en die telefoonnommers van u bure by die telefoon gereed.
• Moenie op ’n plek slaap waar mense van buite jou kan sien nie.
• Lig u kinders oor die korrekte prosedure in as hulle die telefoon antwoord en hoe om op te tree as hulle gedreig word.
• As u waghond skielik dood is, wees op die hoede dat u dalk aangeval word.
• As u aangeval word, moenie terugbaklei nie, veral as die aanvaller ’n wapen het.
• Indien u in die nag aangeval word, skakel onmiddellik alle buiteligte aan en alle binneligte af, sit die alarm aan en bel die Polisie.

[Bron – Namibiese Landbou Unie]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.