Gobabis.com.na het met Johan val Zyl gesels wat op 8 Maart 2022 Kilimandjaro uit geklim het, inderdaad ‘n groot prestasie!

Gobabis.com.na: Wat het jou laat besluit om dit te doen en wie/wat was jou grootste inspirasie?

Johan val Zyl: Dit was nog al die jare ‘n droom van my om Kilimandjaro te gaan klim. Ek het net in die verlede nooit tyd vir myself gemaak nie, en altyd gefokus op my werk en om almal rondom my gelukkig te hou. Ek het twee jaar terug op ‘n self ontdekkings reis gegaan, waar ek begin het om meer op myself te fokus en dinge te begin doen wat ek van hou, wil doen en bereik.

Ek het glad nie daai tyd Kilimandjaro in my nabye beplanning gehad nie, maar ek het fisies en geestelik baie aan myself begin werk. Ek dink die grootste aandeel tot my besluit om Kilimandjaro te doen was om vir myself ook iets te bewys van baie groei. Die afgelope 2 jaar was intense skaaf en groei tye. Hierdie was vir my ‘n bevestiging dat ek enige iets kan aanpak as persoon, en met harde werk en ” consistency ” kan ‘n mens baie ver kom! Jy kan jou droom lys begin ” off-tick ” Ek glo dat elke persoon daagliks jouself moet uitdaag om uit jou gemak sone te kom en dinge te doen wat ‘n mens bang en uitdagend vind, want dit is eers dan wanneer ‘n mens werklik groei!

Ek sou sê my heel grootste inspirasie sal my sleg, moeilike tye en minderwaardigheid in die verlede wees. As ek dit nou vir ‘n slag self uit nederigheid kan sê, ek is baie trots op die jongman wat ek die afgelope tyd geword het. Ek wil ook probeer om ‘n inspirasie vir ander jongmense te wees wat ook deur donker tye gegaan het of tans gaan, en vir hulle ‘n voorbeeld te wees dat ‘n mens tot baie dinge in staat is deur God se genade en dat enige probleem werklik aan gewerk kan word. My raad uit eie ondervinding is dat jy tyd vir jouself moet maak. Werk daagliks aan jouself op fisiese vlak, geestelik en sowel as om na motiverings gesprekke te luister.

Maak die keuse om die wêreld se opinies  op dowe ore te laat val en indien iets wel aan jou kleef sorg dat jy die positiewe in dit sien en verander. Die wêreld kan baie vinnig ‘n persepsie vorm van hoe en wat ‘n mens moet wees , maar die belangrikste is dat jy jouself die kans gun in daardie een-in-‘n-leeftyd om volkome JY te wees. Doen wat jou gelukkig maak en wees elke dag ‘n beter JY as die vorige dag!

Gobabis.com.na: Wat was vir jou die grootste uitstaan oomblik van hierdie hele ekspedisie?

Johan val Zyl: Die heel grootste uitstaan oomblik van die hele ekspedisie was definitief die oomblik  wat ek besef het dat ek aan die bokant is. Toe Kilimandjaro letterlik onder my voete lê. Ek kan dit nog baie goed onthou. Ons het die oggend van 8 Maart 2022 om 01H00 die oggend begin klim aan die laaste 5 km tot by Uhuru Peak ( die hoogste punt van Kilimandjaro ). Ons het met ons kop-liggies begin klim, letterlik tree vir tree baie stadig,. Soos die Tanzanians sê ” Pole Pole ”wat stadig beteken in Swahili. Teen hierdie tyd is mens al baie uitgeput maar adrenalien dryf mens hier baie. Ons het rondom 6 uur die oggend die kruin bereik by Stella Point wat 5756m is.Van hier af lê nog die laaste 800m voor. Die is ongelooflik mooi, en dit is op hierdie punt waar die son begin op kom.

Hier waar mens werklik weer eers besef hoe hoog jy werklik is. ‘n Foto of video kan nie beskryf hoe mooi dit is nie. Die oomblik toe ons by Uhuru Peak ( 5895m ) aankom was dit vir my die heel grootste oomblik van die hele ekspedisie.

Nou dat ek terug dink aan die hele reis kan ek sê dat die hele reis baie gewig en waarde gedra het. Elke tree en oomblik op na bo het die oorwinning werklik die diepste emosie in my geprikkel.

Gobabis.com.na: Wat was jou grootste uitdaging?

Johan val Zyl: Vooraf het ek baie stres gehad oor die feit dat mens hoogte-siekte kan kry. Ek was baie bekommerd in die begin dat my liggaam nie gaan aanpas met die hoogte nie, maar tot my verbasing het dit. Op elke nuwe vlak na bo het my liggaam goed reageer en op die einde van die dag het glad nie nodig gehad om enige medikasie te gebruik nie.Ek was baie dankbaar en bly daaroor. Die koue was ook ‘n groot uitdaging. Die oggend wat ons die kruin bereik het was dit -25 gewees en met die koue wind wat oor die ” glaciers ” waai maak die nie maklik nie. Ek onthou toe ek heel bo staan het trane op gedamp en ek kon voel hoe die trane vries teen my wange. Dis die koudste koud wat ek nog in my lewe beleef het. 

Maar deur hierdie uitdaging was dit my doel om die reis na bo en elke oomblik daarvan baie te geniet. Ek wou niks mis nie. Waar my oog kon sien het ek vir ewig in my hart gebêre.

Gobabis.com.na: Watse advies kan jy met ander deel wat dalk so iets wil aanpak?

Johan van Zyl: Toe ek my reis begin beplan het, het ek dadelik geweet dat ek nie deur ‘n groot reisagentskap wou werk nie. My een kollega, Trudi, het in 2015 ook Kilimandjaro gaan doen en sy het vriende gemaak met die gids wat saam haar die roete teen die berg op gedoen het. Sy naam is Chacha, en so het sy met hom kontak behou. Toe Trudi uitvind dat ek Kilimandjaro wil gaan klim het sy vir my Chacha se nommer gegee en ek het met hom kontak gemaak. Vinnig het ek met hom gemaklik gesels en ons kon praat oor al my vrae en die hele proses wat voorlê. Ek het Chacha Africa Tours gebruik, en ek beveel hulle enige tyd aan! Hulle is ongelooflike mense en mens vol sommer baie vinnig tuis. As enige iemand wat dit miskien ook wil gaan doen meer inligting soek, kan hulle my enige tyd kontak.

Gobabis.com.na: Baie dankie dat jy met ons gesels het en weereens baie geluk met die prestasie, enige laaste woorde?

Johan val Zyl: Ek sluit af met die boodskap, wanneer jy ooit voel jy kan nou net nie meer nie, byt letterlik nog net so bietjie langer vas, meeste van die tyd is die oorwinning al amper klaar jou eie. Bly doelgerig, gefokus en positief.

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.