In hegtenis, vry en toe weer in hegtenis. Dit was gister die verloop van gebeure toe die oudlanddros mnr. Walter “Rooies” Mostert in die Windhoekse landdroshof verskyn het op klagte van ontsnapping uit wettige aanhouding.

Hy is vrygespreek en die saak is van die rol geskrap nadat landdros Ivan Gawanab gisteroggend bevind het die lasbrief vir sy oorspronklike inhegtenisneming op 1 Maart 2021, is nie deur ‘n landdros geteken nie. Sy vryheid was egter van korte duur. Hy is teruggeneem na die selle by die hof, en weer in hegtenis geneem nadat die polisie die fout reggestel het. Hy is toe later die middag weer voor die hof gebring.

Die bevelvoerder vir die polisie in die Khomasstreek, komm. Ismael Basson, het gister namiddag gesê sy kantoor het vinnig weer ’n geldige lasbrief uitgereik en Mostert moes toe weer voor Gawanab verskyn. Ná Mostert vir regsverteenwoording gevra het, is die saak tot 22 April uitgestel.

Mosgtert het aangevoer dat die lasbrief vir sy inhegtenisneming op 24 Maart by Noordoewer, ook op ‘n klag van ontsnapping uit wettige aanhouding, eweneeens nie geldig was nie.

Mostert het sy eie verdediging in die hof behartig. Hy het met ’n leêr vol dokumente die hofsaal binnegegaan, gereed vir sy eerste verskyning op die klag dat hy op 5 November verlede jaar onwetting uit aanhouding ontsnap het waar hy onder polisiebewaking by die die Auas Hills- mediese sorgsentrum in Windhoek behandeling ontvang het.

Hy was sedert 1 Mei 2021 in aanhouding nadat hy naby Tses deur die polisie aangekeer is toe hy die eerste keer probeer het om ongesiens vanaf Suid-Afrika na Namibië terug te keer. Hy het voor dit vir sowat drie jaar in die Wes-Kaap gewoon terwyl die Namibiese owerhede Suid-Afrika versoek het om hom uit te lewer.

Mostert staan saam met mee. Joyline Kambatuku, Eveline Meroro en mnr. Joram Salomo tereg op klagte ingevolge die Teenkorrupsiewet en die Wet op Immigrasiebeheer, geldwassery, afpersing, bedrog en pogings tot regsverydeling.

Mostert het gister in die hof gesê dat hy nie onwettig uit aanhouding kon ontsnap het nie, aangesien hy onwettig in aanhouding was. Verder, sê hy, nog die polisiebeamptes, nog die landdros op Keetmanshoop wat hom na Windhoek laat oorplaas het, wou na hom luister nie.

“Toe hulle my op Noordoewer in hegtenis neem, kon hulle my nie die oorspronklike lasbrief toon nie, en het hulle ’n kopie van ’n kopie laat sertifiseer, wat ook nie deur ’n landdros geteken was nie. Dit was onwettige arrestasies en dus was dit ook onwettige aanhouding,” het hy gesê.

Gawanab het die lasbrief op die staat se leêr nagegaan en het die staatsaanklaer uitgevra oor die dokumentasie op rekord. Mnr. Tatelo Lusepani, vir die staat, moes bevestig dat daar net ’n aansoek vir ’n lasbrief was, met ’n stempel van ’n landdros daarop. “Dit is nie geteken nie, edelagbare,” het hy geantwoord.

Gawanab het beslis dat die dokument nie ’n geldige lasbrief is nie, omdat dit nie deur ’n landdros geteken is nie. “Die kwessie word van die hofrol geskrap,” het hy gesê.

Volgens Mostert ken Namibiese polisiebeamptes nie die wet nie. “Ek was vir hoe lank in aanhouding; onwettig, wederregtelik. Toe ek terugkom om hierdie saak te kom afhandel, arresteer hulle my net. . . Kyk, hier is die lasbrief, hulle het dit nie eens geteken nie.

“Nou hoe kan hulle weer kom en my in hegtenis neem ná dit,” het Mostert gevra. “Dit is ’n bespotting van die regstelsel,” het hy gesê en bygevoeg: “Ek sal dit beveg tot die einde van dae, en hulle kan my weer kom arresteer.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.