Buitelanders besit meer as 1,3 miljoen hektaar kommersiële landbougrond in Namibië, met Duitse burgers wat die grootste stukke grond besit, gevolg deur Suid Afrikaners en Sweedse burgers.

Die parlement se staande komitee oor natuurlike hulpbronne het gister ’n reeks openbare verhore oor die eienaarskap van grond in Namibië in buitelanders se besit voortgesit.

Dit volg op ’n klagskrif wat die Affirmative Repositioning (AR) reeds in 2019 oor dié kwessie van stapel gestuur het.

Volgens inligting voorgelê deur mnr. Petrus Nangolo, direkteur van grondhervorming in die ministerie van landbou, water en grondhervorming, besit buitelanders 281 plase van altesaam 1 376 086,7 hektaar.

Hiervan besit Duitse burgers sowat 629 000 hektaar kommersiële landbougrond in Namibië, en Suid-Afrikaners sowat 349 000 hektaar. Sweedse burgers besit 42 000 hektaar, Chinese burgers 40 000, Italianers 13 000, Britse burgers 13 000, Spanjaarde 12 000, Nederlanders 4 000 en Kanadese 3 000 hektaar.

Vier-en-dertig plase van altesaam 176 693,3 hektaar is vennootskappe tussen Namibiërs en buitelandse burgers.

Dié totale oppervlak is groter as beide die Oshana- en Ohangwenastreek, of naby aan die totale oppervlak van die Caprivistreek.

Landbougrondbesit word in Namibië in agt van die kommersiële landbougrondwet nommer 6 van 1995 en die kommunale landbougrondwet van 2012 bestuur, volgens die ministerie se beamptes.

Dié wetgewing verbied buitelandse eienaarskap van landbougrond in kommunale gebiede, hoewel huurkontrakte, selfs langtermyn, met betrokke owerhede gesluit kan word. Die toepaslike wetgewing laat buitelanders toe om kommersiële landbougrond te besit.

Die ministerie is egter ver gevorderd in die proses om beide wette met ’n nuwe wet op grond te vervang. Nangolo sê hulle beoog om vanjaar die wetsontwerp terug na die parlement te neem. Die wetsontwerp was tevore terugverwys en die ministerie vergader nog vandeesmaand met die ministerie van justisie om uitstaande kwessies af te handel.

Van die uitdagings in grondhervorming wat deur die nuwe wet vergemaklik moet word, sluit in regulasies rakende regverdige vergoeding in die geval van onteiening; asook hoe om skuiwergate toe te stop geskep indien grond deur maatskappye besit word.

Nangolo sê grond word soms aan buitelanders verkoop verduister as aandele in maatskappye of deur middel van finansiële trustfonds transaksies, wat soms nie opgemerk word nie. “Die wetsontwerp op grond sal hierdie skuiwergater toestop,” sê hy.

Die beamptes moes egter erken dat hulle “eers Donderdag” van hul betrokkenheid by gister se vergadering ingelig is en dus nog nie die AR se klagskrif spesifiek deurgegaan nie. Hulle kon dus nie in diepte op die voorstelle antwoord nie.

Die komitee se adjunkvoorsitter, me. Melania Ndjago, het hulle versoek om voor te berei en komende Dinsdag om 12:00 terugvoer te lewer met inligting in verband met die inhoud van die klagskrif.

Verder het beamptes van die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling ook voor die komitee op die klagskrif geantwoord. Hulle het egter meer tyd gevra om met plaaslike owerhede en streeksrade te konsulteer, om beter inligting oor buitelanders se grondeienaarskap binne stedelike gebiede inligting te kan deel.

Namibië se wet verbied ook nie spesifiek eienaarskap deur buitelanders van grond in stedelike gebiede nie.

Die reeks verhore word vanoggend voortgesit met insette vanaf die ministerie van justisies en die Legal Assistance Centre (LAC). Donderdag moet landbouverenigings die NNFU en NAU insette lewer. Komende Maandag sal die vereniging van plaaslike owerhede (ALAN) en die vereniging van streeksrade ’n spreekbeurt kry, voor die nasionale jeugraad se insette en dié van Women’s Action for Development (WAD) op die Dinsdag en kerke en tradisionele owerhede volgende week Woensdag, volgens die skedule.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.