Die Namibiese Inkomste-agentskap (NamRA) het vier van sy werknemers geskors as gevolg van ’n belastingterugbetalingskema waardeur die agentskap minstens N$15 miljoen verloor het.

Diegene wat geskors is, sluit in belastingbeamptes en ander personeellede op verskeie vlakke by die agentskap.

NamRa het onlangs gesê hy werk daaraan om die bedrogspul te ontrafel en dié proses sal sowat drie maande neem.

Die korrupsieskema is, volgens Republikein se susterkoerant Namibian Sun nie beperk tot sy Windhoek-kantoor nie, maar betrek werknemers oraloor die land.

Kommissaris Sam Shivute het verlede week nie veel te sê gehad oor die ondersoek nie en het net gesê die ondersoek duur voort.

“Ons sal drie maande neem om die omvang van dié bedrogspul te bepaal en maatreëls in te stel om hierdie bedrieglike terugbetalings hok te slaan. NamRA sal teen einde Junie ‘n vorderingsverslag aangaande die saak verskaf,” het hy gesê.

Benewens die vier wat tans geskors is, word 122 belastingbetalers – almal individue – sowel as sommige belastingkonsultante en NamRa-personeellede glo vir beweerde belastingonreëlmatighede ondersoek.

NamRa se hoof van binnelandse belasting, mnr. Idi Itope, het verlede maand bevestig die agentskap is besig met ‘n ondersoek na die beweerde skema waarby ongeveer N$15 miljoen betrokke is.

“Ons wil al hierdie belastingbetalers identifiseer en dan ondersoeke doen om te bepaal hoe wyd hierdie bedrogspul strek,” het hy gesê.

Kragtens die agentskap se belastingaansporingsprogram word bepaal dat 70% van rente en 100% van boetes kwytgeskeld sal word indien belastingbetalers met agterstallige belasting op die Geïntegreerde Belastingadministrasiestelsel-portaal (Itas) registreer en die uitstaande kapitaalbedrag gedurende die eerste ses maande afbetaal, effektief 1 Junie.

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.