“Die situasie met die Oekraïne is meer gekompliseerd as wat die Weste dit laat lyk.

“Kiëf was tien eeu gelede die eerste Russiese hoofstad (in die tyd van Kiëf-Roes) en Rusland en Oekraïne het eers ’n paar eeue later aparte lande geword. Hulle sien mekaar deur die eeue nog as broers.” Só gesels ’n oud-Namibiër uit St. Petersburg, Rusland.

Die man, wat met ’n Russiese vrou getroud is en vanweë sy beroep nie geïdentifiseer wil word nie, sê die Russe voel die Weste is besig om allerhande vure te stook teen groepe wat eeue al ’n pad met mekaar stap.

Hy sê die nuwe taalbeleid wat in 2017 deur die Oekraïense parlement, Supreme Rada, aanvaar is vir die uitfasering van Russies in skole, was die laaste strooi. Dit het in 2020 in werking getree.

Hy sê die Russies-gesinde wegbreekstreke in Oekraïne protesteer teen hierdie onderdrukking.

Pres. Wladimir Poetin het Maandag vredesverdrae met hierdie twee streke onderteken. Dit behels onder meer dat dat hy nie troepe in dié gebiede sal ontplooi nie.

“Die gevoel hier in Rusland is dat Navo (die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie) en die Weste besig is om al nader aan die Russiese grense te beweeg.

Hy het gister in ’n stembrief op WhatsApp vertel ’n jong kollega van hom se ouers woon in die oostelike deel van Oekraïne. “Hulle is ten gunste van die oorlog. Hulle voel iemand moet ’n einde bring aan hierdie stryd (Russies-Oekraïense konflik) wat nou al agt jaar voortduur.”

Sy vrou, Olga, het aan Republikein gesê Poetin “het hom al hierdie tyd van oorlog weerhou, maar nou is die situasie akuut”.

“As ’n Rus stem ek saam dat ons nie ons eie mense in die steek kan laat nie, maar ek stem nie saam dat oorlog die regte besluit is nie.

“Die Russiese volk gaan baie swaar kry weens al die sanksies,” sê sy.

Die oud-Namibiër sê sy vrou is baie nasionalisties, maar die jonger geslag voel nie soos sy nie. Hulle steun volgens hom nie Poetin se outokratiese besluitneming nie en soek ’n meer demokratiese bestel.

NAMIBIËRS IN OEKRAÏNE

Die Namibiese regering het gister gesê die veiligheid van die nagenoeg 100 Namibiërs in Oekraïne, waarvan 92 studente is, is baie belangrik.

“Die ministerie van buitelandse betrekkinge en samewerking (Mirco) is voortdurend in kontak met studente wat in die Oekraïne studeer.”

Dié ministerie sê hy konsulteer met alle belanghebbendes om “’n onmiddellike oplossing vir hul veiligheid en veilige terugkeer huis toe te verseker sou dit word nodig”.

Die regering sê verder Namibië glo vas in die beginsel van nasionale soewereiniteit, die integriteit van landsgrense en die vreedsame beslegting van geskille in pas met internasionale wetgewing.

“Namibië doen dus ’n beroep op die Verenigde Nasies, veral die Veiligheidsraad, om te werk aan ‘n vreedsame oplossing vir die konflik in Oekraïne.

Die regering het in dieselfde asem die internasionale gemeenskap versoek om maatreëls te vermy wat die situasie sal aanblaas.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.