Koedoes kán binne ’n natuurlike omgewing gelok word en orale entstof teen hondsdolheid toegedien word.

Tog is meer navorsing nodig om vas te stel of inentingsdekking deur dié metode aanvaarbare vlakke bereik.

Tydens fase 3 van die projek teen hondsdolheid by koedoes onder leiding van dr. Rainer Hassel, gesoute Namibiese veearts en ’n departementshoof aan die Universiteit van Namibië (Unam) se Neudamm-veeartsenykampus, is vasgestel dat faktore soos sterk winde en reën ’n rol speel, maar hul verspreidingstelsel vir orale entstof was suksesvol en doeltreffend om koedoes binne ’n ­natuurlike omgewing te lok.

Fase 3 van die navorsing is op ’n B2Gold-plaas gedoen. In die vorige fases is verskillende tipes lokaas getoets in bomas waar koedoes aangehou is, om seker te maak dit voldoen aan hul smaakvoorkeure.

Hierdie keer is die lokaas op strategiese plekke op die plaas in bome opgehang, sodat dit in ’n natuurlike omgewing getoets kon word.

TERUGVOERING

Hassel het verlede week terugvoering oor die finale uitslae van die projek aan die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se bestuur verskaf en ook die pad vorentoe bespreek.

Dié projek het in 2016 begin nadat die LPO-kongres opdrag gegee het ’n oplossing moet gevind word vir die voortslepende koedoehondsdolheid-pandemie wat die koedoebevolking in Namibië in gevaar stel.

Die doel van fase 3 van die navorsing was om die verskillende dosisse en toedieningsmetodes van ’n orale hondsdolheid-entstof te vergelyk om ’n meetbare immuunrespons in koedoes wat in aanhouding was, te kry.

Fase 3 het ook die lokaas ondersoek wat in die vorige fases van die projek ontwikkel is. Dit was nodig om te bepaal tot watter mate koedoes in natuurlike veldtoestande die lokaas sal vreet sodat hulle genoeg inenting oraal inneem.

POSITIEWE RESULTATE

Koedoes wat in 2020 in die bomas by Neudamm-veeartsenyskool aangehou is as deel van fase 3 van die projek, het hoë dosisse entstowwe per bek ontvang, beide deur die entstof natuurlik in te neem deur die aas te vreet asook deur orale toedienings met ’n spuit in die bek.

Die koedoes se bloed is getrek en ontleed. Plaaslike ontledings deur die veaartsenyskool het positiewe ­resultate opgelewer. Vir die eerste keer ooit is meetbare teenliggaampies in ’n herkouer opgetel ná ’n mondelikse inenting.

Dit is toe as ’n deurbraak in die ­wetenskaplike wêreld beskou.

Volledige monsters is ook na die Friedrich Loeffler-instituut (FLI) in Duitsland gestuur vir verdere ontleding. Hier is nie net vir teenliggaampies getoets nie, maar ook die vermoë van die teenliggaampies om dié virus te neutraliseer en te verhoed dat die virus selle besmet.

Die FLI se resultate wys dat hoër dosisse van die entstof meer teenliggaampies asook hondsdolheid-spesifieke teenliggame teweeg gebring het.

Dit is dus bewys dat immuniteit teen hondsdolheid bewerkstellig kan word deur mondelikse inenting, maar dat die mate van beskerming teen die siekte afhang van die dosis entstof wat die dier inneem.

Bogenoemde beteken lokaas-navorsing is noodsaaklik, want as koedoes die entstof in die natuur mondeliks inneem, moet daar seker gemaak word dat hulle voldoende hoeveelhede daarvan inneem.

Meer navorsing is nodig om vas te stel of die toediening per lokaas verbeter kan word, sodat die tydperk waarin die dier se liggaam waarneembare vlakke van teenliggaampies produseer, ’n aanvaarbare spoed bereik.

Die LPO het CEVA Animal Health in Duitsland asook die plaaslike veeartsenyskool en die FLI bedank, wat ­onderskeidelik gratis entstof en lokaas verskaf het, en wat die serologiese toetse gratis gedoen het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.