‘n Ondersoek gaan ingestel word teen twee polisiebeamptes van Noordoewer wat na bewering Woensdag vir oudlanddros Rooies (Walter) Mostert gehelp het om ongesiens vanaf Suid-Afrika die land binne te kom.

Die vermeende gebeure waarmee dit in groot geheimhouding gepaard gegaan het, klink soos tonele vir die draaiboek van ‘n Hollywood-fliek.

Die bevelvoerder van die polisie in die ||Kharasstreek, komm. David Indongo, sê na bewering het een van die polisiebeamptes Mostert vir ‘n tyd in sy kamer versteek. Toe sy kollega om tienuur Woensdagaand van diens af kom, het hulle vir Mostert met laasgenoemde se voertuig by ‘n lodge gaan inboek, waar hulle hom glo om sesuur Donderdagoggend weer opgelaai het.

“Hulle het volgens inligting met hom 20 km uit Noordoewer gery en hom langs die B1-hoofpad afgelaai sodat hy verder kon ryloop,” het Indongo aan Republikein gesê, en bygevoeg die presiese gebeure sal deel uitmaak van ‘n interne ondersoek deur die polisie teen die twee beamptes.

Hy sê dit blyk Mostert is Woensdag op Vioolsdrift (aan die Suid-Afrikaanse kant van die rivier) opgemerk.

“Ons ondersoek nog dit saak, maar dit is moontlik dat iemand daar hom gehelp het om oor die grens te kom,” sê hy.

Mostert het twee keer landuit gevlug en is tussen 10:00 en 11:00 Donderdag vir ‘n tweede keer aangekeer toe hy probeer het om ‘n saamrygeleentheid te kry. Dit is nie bekend of hy na Windhoek of elders op pad was nie.

Hy het Vrydagoggend vlugtig in die landdroshof op Keetmanshoop verskyn, waarna hy deur die polisie na Windhoek gebring is, sê Indongo. Hy sal Dinsdag in die landdroshof in Windhoek verskyn.

Dié 62-jarige voormalige nasionale rugbyspeler staan tereg op 29 klagte wat verband met die verkryging van onwettige geboortesertifikate, identiteitsdokumente en paspoorte, afpersing asook bedrog.

Hy is verlede jaar op 1 Mei naby Keetmanshoop deur die polisie by ‘n padblokkade aangekeer nadat iemand hom op dié dorp herken en die owerhede in kennis gestel het.

Mostert het na bewering op 5 November verlede jaar uit die mediese sentrum by die Auas Hills-aftreeoord ontsnap waar hy onder polisiebewaking mediese sorg ontvang het en na Suid-Afrika gevlug.

Mostert was in daardie stadium besig om formeel om borgtog aansoek te doen.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.