Ooreenkomstig die Namibiese Grondwet behoort inklusiwiteit ’n uitstaande en allesoorheersende eienskap van ons samelewing te wees. Dit is wat die skrywers van ons Grondwet tog gewil het en ons onderwysstelsel behoort ook hieraan geken te word. Die onlangse Unicef Onderwyskonferensie het ons weer pertinent daaraan herinner. Die verwagting is dat insluiting die sleutel is tot kwaliteit-onderwys.

Maar, wat is inklusiwiteit binne die konteks van onderwys. Op die eenvoudigste gestel, beteken dit die reg van alle kinders, ongeag kulturele, tradisionele, etniese en sosioëkonomiese agtergronde, tot onderwys.

Wêreldwyd, en hier in Namibië ook, bestaan die mistasting dat dit die toelating tot onderwys van intellektuele en fisiek gestremde leerders waarborg. Nee, die klem val op alle kinders! Verder waarborg dit ook die erkenning van insette van individue, groepe en instansies in die onderwysgemeenskappe. Die geïdentifiseerde wesenskenmerke is gemeenskaplikheid, deelname, demokrasie, geleenthede, voordeel, kwaliteit, billikheid en geregtigheid. Hierdie eienskappe word alom erken as belangrike vertrekpunte om die regte van alle kinders te waarborg.

Maar, dan is daar die ander dimensie wat ons aandag vereis. Eerstens is daar die idealistiese sy; dit is presies waarna hierbo verwys word. Eenvoudig gestel, dit verwys na die intensie; die intensie of wens om inklusief te wees. Hierdie sy van inklusiwiteit word veral deur politieke agendas gedryf en is gewoonlik vervat in politieke verklarings en toesprake. Dit word ook baie keer voorgehou in party politieke manifestos. Inklusiwiteit as intensie is gevolglik in baie gevalle niks anders as retoriek nie; leë beloftes.

Teenoor inklusiwiteit as intensie vind ons inklusiwiteit as praktyk. Die vraag is in hoe ’n mate word strategieë vervat in beleide en begrotings om inklusiwiteit te bevorder, omgesit in aksie. Met ander woorde, teen watter tempo en frekwensie vind implementering plaas? En dit is juis hier waar ons vasval. Die gaping tussen inklusiwiteit as intensie en inklusiwiteit as praktyk is te ooglopend om mis te kyk. Daar is beweringe dat geestelikes uit sommige Namibiese skole, onder die voorwendsel dat ons onder die gesag van ’n sekulêre staat staan, geweer word. Aanbevelings vir aanstellings waaraan skoolrade soms laat nagte werk, word geïgnoreer net omdat ’n direkteur in ’n hoër gesagsposisie is. Dit is steeds moeilik vir leerders van verafgeleë landelike gebiede om by die skool te kom weens die gebrek aan koshuise. Daar is skole in hierdie land wat steeds met onvoldoende of geen ablusiegeriewe sit. Soms sit sommige skole vir weke sonder water en elektrisiteit. Oormatige klem word geplaas op akademiese prestasies terwyl die ander talente van kinders eenvoudig geïgnoreer word.

Soms word voorsiening gemaak vir gestremde leerlinge of vir tegniese opleiding net omdat dit netjies inskakel by politieke agendas. Nêrens het ek gehoor van programme vir buitengewoon intelligente kinders nie. Swanger skoolmeisies kan in die skool bly tot knap voor die bevalling, Maar, word daar voorsiening gemaak vir die spesifieke behoeftes van hierdie meisies? Maak ons onderwysbegroting voorsiening vir implementering? Hoe goed is ons inspekteurs van onderwys, skoolhoofde en onderwysers onderlê in die teorie en praktiese implementering van inklusiewe onderwys? (Met vrugte geput uit die werk van Peder Haug (2017), Understanding Inclusive Education; Ideals and Reality.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.