’n Onafhanklike ondersoek deur internasionale kundiges moet gedoen word om te bepaal of die kundigheidsvlakke en doeltreffendheid van Meatco se bestuur en direksie genoegsaam is om ’n internasionaal mededigende uitvoer- en bemarkingsaanleg te bedryf.

So lui ’n mosie deur die bekende Grootfontein-boer mnr. Peter Zensi wat Vrydag eenparig tydens Meatco se algemene jaarvergadering op Otjiwarongo aanvaar is.

Hy vra in die mosie ook dat ’n spesiale vergadering binne vier maande gehou word waartydens die bestuur en direksie terugvoering aan produsente gee oor Meatco se kritieke finansiële situasie en kommer oor of die aanleg volhoubaar bestuur word.

Meatco het as groep in die 2021-’22-boekjaar sy grootste verlies ooit verklaar, naamlik N$206,29 miljoen. Dit is die vyfde jaar agtereenvolgens dat Meatco ’n verlies ly.

Volgens die ouditeurs is daar beduidende twyfel oor of Meatco as ’n lopende saak kan voortbestaan. Die laste oorsky die bates met N$55,72 miljoen.

Zensi het in sy mosie ook daarop aangedring dat Meatco die geld wat hy by die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) geleen het om bankrotskap af te weer, terugbetaal. Dit beloop N$530 miljoen, hoewel dit tydens die jaarvergadering bekend geword het die N$200 wat die DBN onlangs beskikbaar gestel het, ‘n reddingsboei van die regering was. Meatco moet net die rente op daardie lening diens.

Verder eis Zensi dat Meatco ’n waarborg van betaling aan produsente gee vir minstens ’n jaar vooruit.

Hy sê daarsonder sal produsente se vertroue in Meatco nie kan herstel nie.

Mnr. Rainer Ritter, bekende ouditeur wat in sy nou reeds bekende Qua Vadis-verslae oor Meatco opnuut die soeklig laat skyn het op die bedenklike situasie by die vleisverwerker, wys daarop dat sy markaandeel van 80% in 2014, tot ’n gemiddeld van 40% gedaal het.

’n Produsente met wie Republikein na afloop van die vergadering gepraat het, sê alhoewel die direksie en die bestuur keer op keer sê hulle is besig om die besigheid om te draai en volhoubaar te bedryf, “voel produsente hulle beskik nie oor die kundigheid om met die huidige hoë rentedraende skuldvlakke daarin te slaag nie”.

“Ons vra vir die regering om die direksie se doeltreffendheid te ondersoek en ’n gapingsontleding doen van wat die kundigheid en ondervinding behoort te wees, want ons trek hul vermoë ernstig in twyfel,” sê dié produsente, wat anoniem wil bly.

Intussen het mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), in reaksie op gebeure by die jaarvergadering gesê Meatco is nie meer volhoubaar nie en benadruk die vleisverwerker moet herstruktureer word.

Die LPO het op die vooraand van die jaarvergadering in ’n verklaring gesê eienaarskap deur produsente is ’n voorvereiste.

Volgens Pretorius het die LPO reeds die voorgestelde plan aan al die relevante ministers en regeringsagentskappe voorgelê.

“Die LPO het geen steen onaangeroer gelaat om Meatco op ’n lewensvatbare trajek te plaas nie. Dit is betreurenswaardig dat die beleidmakers en bestuur van Meatco negatiewe sienings oor die pogings van georganiseerde landbou koester en sodoende ’n eens trotse bastion vernietig, sonder enige aanspreeklikheid,” het dié organisasie in sy verklaring gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.