“Korrupsie is ʼn maatskaplike siekte. Dit is soos ʼn kanker, daar is talle ooreenkomste. Dit beskadig en breek die siel van ʼn samelewing, en dit is die armstes wat dit die minste kan bekostig. Eintlik is korrupsie sistemies en endemies, dit sal lank neem om hok te slaan.

“Ons vertrou mekaar en die regering minder en minder soos hierdie monster die samelewing insluk.”

So het prof. Johan Coetzee, politieke wetenskaplike en ʼn korrupsienavorser by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), gesê.

Die Namibiese Instituut vir Demokrasie (NID), Olupale en die Hanns Seidel-stigting het Donderdag 29 September ʼn openbare gesprek gereël om hulpmiddels teen die desensitering van die bevolking teenoor korrupsie, te bespreek.

Die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) mnr. Graham Hopwood, en mnr. Dimbulukeni Nauyoma, wat homself as ʼn pas bevryde politieke gevangene en aktivis beskryf, het saam met Coetzee aan die gesprek deelgeneem.

Coetzee sê korrupsie is ʼn multi- en interdissiplinêre uitdaging wat nie binne die definisies van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) en die Wêreldbank vervat word nie.

Hopwood stem saam dat korrupsie in Namibië ʼn sistemiese kenmerk van die samelewing is.

“Strafloosheid. Dit is wat in Namibië gebeur, en dit gebeur al hoe meer,” brei hy uit.

Nauyoma sê: “Korrupsie takel ons basiese noodsaaklikhede geleidelik af. Hier in Windhoek is die lewe net ʼn asdrom. Selfs water is duur in die nedersettings. Korrupsie is die rede hoekom julle handboeke moet deel,” het hy aan leerlinge in die gehoor gesê.

“Wat is die impak van korrupsie in ʼn land soos Namibië?” vra hy en sê: “As gevolg van korrupte praktyke in die land, het ons tekorte. Ons het nie enige hospitaal, as ʼn land, sedert onafhanklikwording gebou nie. Ja, ons kon ʼn paar klinieke bou, maar daardie klinieke is sonder pille, omdat iemand in ’n vertrouensposisie wat Panados en hoë bloeddrukpille moes aankoop, weg is en die geld het in private sakke verdwyn,” sê hy.

Al drie kenners is nogtans versigtig om mense aan te moedig om hokaairoepers te word.

“Ons moet versigtig trap omdat mense se lewens op die spel is,” het Nauyoma gesê.

“Niemand hou van hokaairoepers nie. Dit is nie in die Namibiese kultuur nie, dit is nie gewild nie. Dit is gevaarlik,” waarsku Coetzee.

Hopwood sê die Wet op die Beskerming van Hokaairoepers is reeds in 2017 aangeneem, maar geen geld is vir die toepassing daarvan begroot nie.

“Hoekom is daar ʼn leemte? Hoekom is niks gedoen om die wet toe te pas nie? Dit kom terug by politiek, met wetgewing wat bloot ’n rookskerm is, terwyl ons niks doen nie,” sê hy.

Die feit dat die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) nie sy eie wet rakende die finansiering van politieke partye wil toepas nie, is nog ʼn voorbeeld van verdraagsaamheid teenoor korrupsie, voeg hy by.

Met betrekking tot die veiligheid van individue wat korrupsie aan die kaak stel, sê Hopwood: “Ek twyfel oor die ACC. Ek het nie veel vertroue in ons grondwetlike instansies soos die ACC en die ombudsman nie.”

Nauyoma sê: “Namibië is ʼn klein land, en ons almal ken mekaar.” Coetzee sê die wetgewing bied geen beloning om die risiko wat betrokke is om korrupsie aan die kaak te stel nie, te regverdig nie.

In Amerika kan ʼn hokaairoeper tussen 15% en 24% van die geld terugwin wat uit die vervolging van korrupsie voortspruit.

In Namibië het die minister die gesag om te besluit wie kry ʼn beloning en wat die beloning sal wees.

Nauyoma het die deel van die wet beklemtoon wat die verskaffing van onakkurate inligting strafbaar maak.

“Dit is ontmoedigend,” sê hy. Hulle stem saam dat die media ʼn beter keuse bied.

“’n Professionele joernalis sal sy bron beskerm,” sê Nauyoma.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.