Die onbeskikbaarheid van ‘n paar Onderstepoort-entstowwe is ‘n groot kopseer juis nou wanneer die uitbreking van ‘n hele paar siektes in die laat groen seisoen gevrees word vanweë die goeie reën. Dit geld grootliks vir virussiektes wat deur muskiete en muggies oorgedra word. Dié insekte is op hul aktiefste in die vogtige laat somer.

Veeartse met wie Agriforum in gesprek was, raai boere aan om hul diere te probeer weghou van oop waters in laagliggende dele waar muskiete en muggies hoofsaaklik uitbroei. Nog ‘n voorkomingsmaatreël wat die Mariental-veearts dr Andreas Gaugler en die Windhoek-veearts dr Anselm Voigts aanbeveel om die lading van dié twee insekte op diere in toom te hou is om by ‘n dipmiddel vir vee die reukafskrikmiddels ACT Fluid of Stockholm-teer te voeg. Albei kleef aan die haarkleed van diere vir ‘n langer werking om lading te verminder. Hulle waarsku teen die gebruik van sitronella omdat dit wel muskiete weghou, maar muggies weer lok.

Tans is geen Onderstepoort-entstowwe beskikbaar vir bloutong (beide beeste en kleinvee), drie-dae stywesiekte (beeste) en ensoötiese aborsie (kleinvee) nie. In die geval van Slenkdalkoors is die nie-lewende oftewel onaktiewe entstof nie beskikbaar nie. Imo Schlabitz van Swavet sê hulle kyk nou na alternatiewe verskaffers in Suid-Afrika. Hy wys egter daarop dat die Suid-Afrikaanse staatsbeheerde Onderstepoort die alleen-vervaardiger van sekere entstowwe is. “Navrae oor beplande tye vir die hervatting van lewering aan Onderstepoort bly vaag of onbeantwoord. Ons sien geen verbetering nie. Vorige jare se verkope dien as riglyn waarvolgens ons nou vooruit bestel. Vervaldatums waarvan party middels s’n net ‘n jaar geld, maak dit egter moeilik,” sê Imo.

Op sy beurt voeg dr Gaugler by dat Onderstepoort die afgelope tyd groot in die nuus was en druk van Suid-Afrikaanse veeartse ontvang oor hul alleenreg op die vervaardiging en verspreiding van sekere entstowwe. Suid-Afrika beskik oor private laboratoriums wat toegerus is om dié entstowwe te vervaardig en voorraad te verseker, maar Onderstepoort weier.

[Bron – Agriforum Namibian Agriculture Magazine]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.