Die Namibiese Lonekommissie het Vrydag sy verslag oor ’n ondersoek vir ’n nasionale minimumloon aan die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Utoni Nujoma, voorgelê.

Die kommissie is op 18 Februarie 2021 in die lewe geroep en sou op 30 September verlede jaar sy ondersoek voltooi het, maar Covid-19-verwante vertragings het die vroeë voltooiing van die verslag gekniehalter, volgens ’n ministeriële vrystelling.

Hulle moes relevante nywerhede ondersoek en voorstelle aan die minister vir ’n nasionale minimumloon te maak.

Die voorgestelde minimumloon sou van toepassing wees op alle Namibiese werknemers behalwe dié wat die minister spesifiek uitgesonder het.

Die kommissie moes ook ondersoek instel en voorstelle maak in verband met die minimum-werksomstandighede in Namibië.

Die kommissie het bestaan uit dr. Marius Kudumo, die voorsitter, en mnr. Gideon Thomas, me. Edwina Hashikutuva, dr. Fritz Nghiishililwa en me. Nokokure Kariko.

Hulle het 13 verhore oraloor Namibië gehou, waarin 433 mense deelgeneem het, na 115 mondelingse insette geluister en het 60 geskrewe insette ontvang.

Kudumo het die ministerie bedank vir die vertroue wat in die kommissie geplaas is en het ook werknemers, werkgewers, werkgewersorganisasies en vakbonde bedank vir hul samewerking.

Die kommissielede het op ’n vrywillige basis gewerk. Die ondersoek is ook binne die Harambee-welvaartsplan II geïnkorporeer, waarin die laagste basiese loon teen 2022 vasgestel moes word om ongelykhede in armoede, inkomste en rykdom te takel.

Die vasstelling van dié loon word as ’n stap tot ’n nasionale minimumloon bestempel.

Nujoma het gesê volgens die Grondwet moet die regering verseker werknemers in Namibië verdien genoeg om ’n goeie lewensbestaan te kan voer.

“Ons weet almal dat tienduisende van ons mense elke dag hard werk om in hul en hul gesinne se behoeftes te voorsien, maar is skaars daartoe in staat om brood op die tafel te sit, wat nog te sê om ‘n ordentlike lewenstandaard te handhaaf as gevolg van lae lone.

“Alhoewel die laaste arbeidsmagopname (2018) aandui dat die gemiddelde loon N$7 935 is, beteken ons situasie van uiterste inkomste-ongelykheid – ’n bewys van apartheid – ‘n groot deel van Namibiese werkers verdien minder as N$1 500 per maand, terwyl ’n kleiner deel 20, 40 of selfs 100 keer hierdie bedrag verdien,” sê hy.

Hy sê die doelwitte van ’n nasionale minimumloon sal onder meer insluit verbeterde lone vir werknemers; vermindering van inkomste-ongelykheid; verligting van armoede en verhoging van huishoudelike inkomstevlakke, en ’n ordentlike lewenstandaarde vir almal.

Die kommissie moes spesifiek vasstel hoe ’n minimumloon uitgewerk sou word, of werkgewers geskrewe kontrakte met werknemers moet sluit, hoe om ’n minimumloon toe te pas en af te dwing, hersiening en aanpassing van dié loon, en watter nywerhede uitgesluit moet word, sê hy.

Die kommissie moes onder meer ook werkgewers se vermoë ondersoek om sake te doen wanneer ’n minimumloon afgedwing word.

“Ek beoog om die verslag aan ‘n proses van noukeurige ondersoek binne ons ministerie vir sy volledigheid, nakoming van wetlike vereistes en die lewensvatbaarheid van sy aanbevelings te onderwerp,” het die minister gesê.

“Indien nodig, mag ek verdere gesprekvoering en konsultasies voer. Daarna, as ek dit gepas dink, sal ek ‘n loonbevel voorberei vir afkondiging in die Staatskoerant,” sê hy.

Volgens die ministerie se woordvoerder, me. Anna Salkeus, kan die verslag nie tans met die publiek gedeel word nie.

“Die minister sal eers die verslag bestudeer en dit daarna na die kabinet vir goedkeuring stuur. Ons sal dit beskikbaar stel sodra dit goedgekeur is,” het sy gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.