Die Harnas wildstigting het in ’n nuusvrystelling gister sy stigter en eienaar me. Marieta van der Merwe verdedig en die ministerie van omgewing, bosbou en toerisme se beamptes beskuldig van slinkse optrede, die gebruik van Gestapo-taktiek en bymotiewe.

Volgens die vrystelling het beamptes, spesifiek van die Windhoekse natuurlewe- en parke-afdeling, laas Sondag voorgegee hulle soek toegang tot Harnas om foto’s vir ’n voortdurende ondersoek te neem.

“Nadat hulle die perseel binnegelaat is, onder die voorwendsel van foto’s neem, wou die ministerie se amptenare die 72-jarige me. Van der Merwe in hegtenis neem op drie klagte van die oortreding van die natuurbewaringsordonnansie.

“Die ministeriële beamptes het later ingestem om haar nie op ’n Sondagnamiddag in hegtenis te neem nie, maar dat sy Maandagoggend halfsewe by die Otjinene landdroshof moes aanmeld,” lees die vrystelling.

Volgens Harnas het Van der Merwe verskyn en is sy later op borgtog van N$40 000 vrygelaat.

“Me. Van der Merwe is hiermee op rekord dat sy al die klagtes teen haar sal verdedig,” lees die vrystelling.

“Die eise deur die ministerie is op die ministerie se administratiewe mislukkings gebaseer. Die Gestapo-agtige werkwyse van die ministerie, veral die Windhoekse departement van natuurlewe en parke, getuig van bymotiewe en is ’n vermorsing van belastingbetalers se geld in onnodige hofsake.”

Harnas lig uit dat Van der Merwe onlangs suksesvol teen die ministerie in ’n dringende aansoek in die Hoërhof was en dring aan sy het ten alle tye binne die wet opgetree.

“Die beëdigde verklarings in die saak het spesifiek die voortgesette onwettige en intimiderende optrede deur die ministerie uiteengesit. In Februarie 2022 het Van der Merwe die hooggeregshof van Namibië suksesvol genader op ’n dringende grondslag om die ministerie te verbied om twee leeuwyfies van Harnas na Okapuka Ranch te verwyder. Die twee leeuwyfies is nou weer by die klagte teen Van der Merwe ingesluit,” lees die vrystelling.

Harnas het reeds 34 jaar ervaring as ’n voorloper in die sorg van wilde diere in Namibië en is een van min instansies wat gemartelde, beseerde en probleemdiere inneem en wat na weesdiere omsien.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.