Die algehele verbod op die vrystelling van die kabinet se rekords oor sy prosedures en besluite, maak Jan Publiek se deur toe vir sy reg op toegang tot belangrike beleidsbesluite en regeringsprosesse.

“Dit is totaal strydig met die grondwetlike reg van toegang tot ‘enige inligting’ wat deur ’n openbare liggaam besit word,” sê Access to Information Namibia (Action) in ’n verslag om insette te lewer oor die wetsontwerp op toegang tot inligting.

“Menseregte in die algemeen word gekniehalter wanneer die toegang weerhou word tot sleutelbesluite en prosesse wat die basis vir beide wetgewing en administratiewe optrede is,” sê Action.

Die wetsontwerp sluit wel ’n klousule in vir inligting oor korrupsie, openbare gesondheids-, veiligheids- en ernstige omgewingsrisiko’s waar die openbare belang swaarder weeg as die skade wat dit met openbaarmaking sou hê. Klousule 2(2)(a)(i) verwyder egter heeltemal die verrigtinge en besluite van die kabinet en sy komitees.

“Dit beteken daar is absoluut geen toegang tot hierdie materiaal nie, ongeag hoe sterk die openbare belang is of hoeveel tyd verloop het.”

Action sê die publiek moet ook die reg op toegang hê tot die aantal en tipe sake wat deur ’n hof of tribunaal aangehoor word, sowel as statistieke oor die uitkomste.

Volgens die wetsontwerp is geregtelike funksies en benoemings, sowel as die keuring en aanstelling van geregtelike beamptes egter vertroulik.

Action sê dit definieer ook nie wat as private inligting beskou word nie en beskerm nie persoonlike inligting oor seksuele oriëntasie of geslagsidentiteit nie. Laasgenoemde sluit inligting in soos onder meer dat ’n spesifieke individu ’n geslagsverandering geregistreer het. Dit beskerm ook nie ’n individu se e-posadres en telefoonnommer nie.

Die kommissaris van regshervorming en -ontwikkeling bevraagteken die vestiging van ’n nuwe kantoor vir die inligtingskommissaris as die tekort aan finansiële hulpbronne in ag geneem word en stel voor dat dit as afdeling onder die kantoor van die Teenkorrupsiekommissie (ACC) val. Hy vra ook hoekom dié wetsontwerp ’n kommissaris moet hê, terwyl talle wette in die land sonder een is.

“Hoekom is hierdie wetsontwerp ’n prioriteit, terwyl soveel ander prioriteite onafgehandel is?”

Volgens die kommissaris moet die wetsontwerp beskerming teen beledigings verseker wat in die naam van vryheid van spraak geuiter word, terwyl die regering ook net die bedrywighede van openbare en private instellings en nie individuele persone moet monitor nie.

Die vraag word ook gestel hoe die wetsontwerp teen fopnuus of die misbruik van inligting gaan waak.

Internet Society Namibia Chapter (ISNC) vra dat die wetsontwerp voorsiening maak vir die kriminalisering van aanlyn geweld teen individuele persone, terwyl die definisie van toestemming uitgebrei moet word om die verskillende stadiums van data se lewensiklus in te sluit. Laasgenoemde moet veral geld in gevalle waar inligting sonder toestemming gedeel is.

ISNC wil ook hê weerlose gemeenskappe moet deel van die implementering wees en dat Jan Publiek presies moet weet hoe om die inligtingskommissaris te nader.

“Hoe gaan ons verseker inligtingskantore van openbare instellings sluit die gaping tussen die regering en die gemeenskap? Hoe gaan hulle inligting versprei en hoe word die inligting tot op plaaslike vlak gebring? Hoe gaan hulle verseker die inligting is om te beskerm en nie vir politieke gewin of misleidende openbare belang nie?”

ISNC stel voor stamhoofde en -kapteins tree as inligtingsbeamptes op en word as punte van toegang tot inligting gebruik.

Die wetsontwerp het ten doel om deursigtigheid, verantwoordbaarheid en die doeltreffende bestuur van alle openbare en private instellings te bevorder.

Dit word gedoen deur prosedures te vestig om individue in staat te stel om rekords van staatsinstellings sowel as private liggame “so spoedig en redelik as moontlik” te verkry.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.