Broeiende donderstorms sal vandag weer erge haelstorms in die Noorde en in die Khomas-, Hardap- en Omahekestreek veroorsaak.

Die Namibiese Meteorologiese Dienste het ’n waarskuwing teen haelstorms vir dié streke vir gister en vandag uitgereik en gesê mense moet waaksaam wees en die nodige voorsorgmaatreëls tref.

‘n Haelstorm het reeds Sondagmiddag oor Windhoek uitgesak en die stad in ’n yskombers bedek.

Terwyl inwoners verheug was oor die eerste reën van die seisoen, was dit egter nie sonder skade nie.

By ‘n kompleks in die Avis-woonbuurt het die hewige hael en donderstorms met sterk winde ‘n boom laat ontwortel en ‘n deel van die heining rondom die kompleks laat ineenstort.

Windhoekers het ook aangemeld dat hael tuine vernietig het, wat volgens beskrywings so groot soos ysblokkies was – ‘n eerste vir die hoofstad.

Volgens inskrywings op die Facebook-blad Reën in Namibia het haelstorms in Windhoek-Wes, Olympia, Klein Windhoek, Khomasdal, Hochlandpark op die westelike verbypad en ook in Okahandja voorgekom.

In Hochlandpark is 10 mm Sondag aangeteken, 16 mm in Avis, 10 mm in Eros en 7 mm in Pionierspark.

Khomasdal het altesaam 17 mm vir beide Saterdag en Sondag gehad, terwyl 10,5 mm reën vir die naweek in Ludwigsdorf aangeteken is.

Teen Maandagoggend is 10 mm reën in Suiderhof aangeteken.

By Drie Krone, wat op die Dordabispad oos van Windhoek geleë is, is gister 7,3 mm gemeet, terwyl 20 mm op die plaas Ombuerendende, 110 km oos van Windhoek, aangeteken is.

Gister is 13 mm op Otjiwarongo aangeteken en 10 mm op Keetmanshoop, terwyl 15 mm Vrydag op Grootfontein geval het.

Verder is 19 mm Vrydag rondom Ondangwa aangeteken en 20 mm Sondag op Okahandja.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.