Die eerste groep Namibiese graad 12-leerlinge wat die eksamens aflê vir die Internasionale Sekondêre Sertifikaat (ISC) van die Onafhanklike Eksamensraad (IEB) skop Woensdag (19 Oktober) af met hul eerste vak. In Namibië skryf 167 leerlinge by sewe sentrums die eksamen wat vanaf 19 Oktober tot 23 November duur. In totaal lê 489 kandidate (476 voltyds en 13 deeltyds) ISC-eksamens af in buiten Namibië ook in Eswatini (249 kandidate) en Mosambiek (75 kandidate).

Die Afrika-gesentreerde kwalifikasie verseker met die gekose vereistes toegang tot tersiêre instellings in die Suider-Afrikaanse streek.

Die ISC-maatstaf is ook vergelykbaar met ander skoolverlatingskwalifikasies oraloor in die wêreld en waaronder Brittanje se Gevorderde en A-Vlakke en Australië se Senior Sekondêre Onderwyssertifikaat. Die kwaliteitversekering van die ISC-kwalifikasie is deur die Universiteit Stellenbosch se Eenheid vir Internasionale Geloofsverklaring (Stellenbosch University’s Unit for International Credentialing) gedoen. Laasgenoemde was ook verantwoordelik vir die eksterne moderering van alle eksamenvraestelle om te verseker die evalueringsproses is regverdig, geldig en betroubaar.

Die ISC is deur die IEB ontwikkel in reaksie op onlangse veranderinge in Suid-Afrika se regulatoriese raamwerk vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) – die matriekskoolverlaatkwalifikasie – wat beteken het dat die NSS nie meer beskikbaar sou wees vir onafhanklike skole buite die grense van Suid-Afrika.

Universiteite Suid-Afrika (USAf) het ook volstaan dat kandidate wat die IEB-ISC met meriete of op ’n gevorderde vlak behaal, aan die minimum vereistes voldoen vir toelating tot graadstudies aan universiteite in Suid-Afrika.

“Die ISC is ‘n gehalte, skooleindkwalifikasie, en met die insluiting van die Verdere Studie-vakke is dit ‘n kwalifikasie wat internasionaal op sy eie voete staan. Pogings om vergelykbaarheid van die ISC met die res van die wêreld te verseker is noodsaaklik. Ons is terselfdertyd in staat om ons eie leerplan, visie, ideale en sterkpunte van Afrika-nasies te behou. Dit beteken ons is in staat om ons eie identiteit te behou en terselfdertyd onderrig te verseker deur ‘n leerplan wat internasionale en plaaslike erkenning geniet,” sê me. Anne Oberholzer, uitvoerende hoof van die Onafhanklike Eksamenraad. ISC-uitslae word voor 25 Desember vrygestel.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.