Telefone en e-posse wat nooit beantwoord word nie, ’n lang, ingewikkelde proses om jou kwitansie te kry nadat jy reeds grondbelasting betaal het, asook beweerde “onbevoegdheid en onbeholpenheid”.

Dít is van die klagtes waarmee boere die afgelope week by Republikein kom aanklop het.

Dié klagtes kom terwyl die ministerie van landbou, water en grondhervorming – kort voor die sperdatum vir die betaling van grondbelasting – steeds skarrel om verlore data van sy stelsels te herwin en tans slegs aanslae “met die hand” kan uitreik.

Die data het glo verlore geraak toe ’n kragonderbreking in Junie veroorsaak het dat een van hul bedieners ineengestort het. Die bediener word gebruik vir die gerekenariseerde titelakte-registrasiestelsel (CDRS), die grondbelastingstelsel wat die aanslae druk asook vir e-posse.

Me. Christelle van Wyk van Stampriet sê sy het reeds op 6 September ’n versoek vir haar belastingaanslae ingedien en herhaaldelik opgevolg, maar geen terugvoering ontvang nie.

“Ek was selfs op 10 Oktober persoonlik by hul kantoor en ek het weer die vorm ingevul en ingehandig. Iemand het my ingelig dat daar uitstel tot einde Desember gegee sal word, maar dit is nog nie amptelik bekend gemaak nie,” het Van Wyk gesê.

DATA VERLORE

Vyf ander boere met wie Republikein gesels het, het ook gesê hulle is ingelig dat daar iets met die grondbelastingstelsel gebeur het, of dat dit deur kuberkrakers geteiken is en alle inligting moet nou opnuut opgelaai word – daarom dat hulle lank op enige terugvoering wag.

Mnr. Ian Mostert van Grootfontein het gesê nog ’n kwessie is dat daar nou net met internetbankdienste betaal mag word, wat vir baie mense ’n probleem is.

“Dan moet jy die bewys van betaling met die hand vat sodat hulle vir jou ’n kwitansie op Otjiwarongo kan gee. Dit kos dat jy nog soontoe moet ry.

“Hulle werk nie meer met kontant nie. Hulle werk ook net op posbusse – iets wat min van ons nog het. Ek moes my vrou se werk se posbus gee, anders gee hulle nie vir my ’n aanslag nie,” het hy gesê.

Nog ’n klagte wat ontvang is, is dat die nuwe persoon wat verantwoordelik is om die grondbelastingklaringsertifikate af te teken, baie lank neem.

“As ons navrae doen, word daar gesê die goed lê by dié persoon – hy kry nie kans om dit te teken nie of is weer landuit.

“Dit is ’n frustrasie, want ons kan nie aansoek doen vir kwytskeldings (waivers) as ons nie dié klaring het nie. Ons kan ook dan nie by die aktekantoor registreer nie. Die ministerie verstaan nie dié dinge kos baie keer geld nie,” is gesê.

KONSULTANT

Intussen het die ministerie aangedui ’n konsultant is genader om die stelsel wat die aanslae uitdruk weer te installeer – met die hoop dat die proses voor die sperdatum afgehandel kan word.

Die ministerie sê egter dit is moeilik om te sê hoe lank die herwinningsproses sal neem.

“Die meeste van dié stelsels is reeds herwin, behalwe vir die deel wat die aanslae moet druk asook die titelakte registrasiestelsel,” het die ministeriële woordvoerder, mnr. Simon Nghipandulwa, gesê.

Hy het bygevoeg die ministerie is bewus van die sperdatum vir enkele van die boekjare wat om die draai is en die ander ook uitgestel kan word, sou dit nodig wees.

Dit volg nadat die sperdatum vir die betaling van grondbelasting vir die boekjare 2017-’18 en 2018-’19 intussen reeds tot 31 Desember vanjaar uitgestel is – om aanpassings in terme van die belastingkoers te maak.

“Boere kan ook die hulptoonbank by 061 296 5083 kontak, waar amptenare tans gewysigde aanslae met die hand uitreik,” het Nghipandulwa gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.