Kommersiële boere is gekant teen ’n voorgestelde beperking op die besit van grond in Namibië deur buitelanders.

Mnr. Piet Gouws, president van die Namibië Landbou-unie (NLU), het parlementslede gister ingelig dat so ‘n beleid direkte buitelandse beleggings negatief sal beïnvloed. So ‘n verbod sal volgens hom landbou-ontwikkeling belemmer en reuselandbouprojekte beplan deur die regering pootjie.

Die parlement se staande komitee oor natuurlike hulpbronne se reeks openbare verhore oor grondbesit deur buitelanders het gister in Windhoek voortgeduur. Boere is gevra om insette te lewer, met die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU) wat eerste aan die woord was, gevolg deur die NLU. Die NNFU verteenwoordig kommunale en ontluikende boere.

Die verhore volg op ’n klagskrif deur die Affirmative Repositioning-beweging (AR) in 2019. Die AR het ’n wetsontwerp vir die regulering van grondeienaarskap deur buitelanders by hul petisie aangeheg.

Gouws sê die NLU het die wetsontwerp noukeuring bestudeer, alhoewel daar nie genoeg tyd was om die kommentaar van lede in te win nie. “Buitelandse belegging is ’n belangrikke dryfveer van die ekonomie, en landbou is nie ’n uitsondering nie,” het hy aan die komitee gesê. Die meeste buitelandse beleggings in landbou is volgens Gouws gemik op hoëwaarde uitvoergewasse. “…Tot N$2 miljoen word in sekere gevalle per hektaar belê. Oor die laaste tien jaar is miljarde langs ons suidelike grens belê,” het die NLU aangevoer.

Gouws sê die landbouminister het in Maart massiewe geleenthede aangekondig, insluitend 5 000 hektaar vir groenskemas en nog 5 000 hektaar by die Neckartaldam, waar N$1 miljard vir besproeiing nodig is. “Vaardighede en beleggingskapitaal is nodig,” het die NLU benadruk.

Die voorgestelde regulasies sal volgens Gouws bestaande en toekomstige landboubeleggings uit die buiteland kniehalter. Die wetsontwerp laat niemand anders as Namibiese burgers toe om grond te besit nie, wat volgens Gouws eienaarskap deur maatskappye, geslote korporasies en regspersone insluit. Die AR eis die onteiening van grond in besit van enigiemand anders as Namibiërs binne drie jaar. Volgens die voorstel sal nie-Namibiërs slegs tot tien jaar lank grond kan huur, solank dit vir kommersiële doeleindes gebruik word.

“Mens vra jouself of enigiets ’n groter effek op toekomstige buitelandse belegging in landbou in Namibië sou hê as die versekerde onteiening van daardie grond, binne drie jaar?” het Gouws gestel. So ‘n wet sal volgens die NLU ook ‘n reuseimpak op mynbou in Namibië hê.

Gouws sê die NLU wil graag deelneem aan die gesprek en dat die groter kwessie van grondhervorming in Namibië oor die algemeen dringend aandag moet geniet.

Die NNFU se uitvoerende hoof, mnr. Kuniberth Shamathe, het gesê hulle ondersteun die AR se voorstelle ten volle.

Hy het gesê die twee persent van landbougrond wat in buitelanders se besit is, beslaan volgens statistiek uit 2018 ‘n oppervlak van 1,2 miljoen hektaar. Die feit is volgens Shamathe ’n bron van kommer vir lede van die NNFU. Hy het gesê 70% van Namibië se boere is kommunale boere. Dieselfde statistiek van die Namibië Statistiekagentskap (NSA) toon volgens die NNFU dat kommunale grond sedert onafhanklikwording met een persent gekrimp het.

“Die bevolking groei, maar die grootte van die grond wat vir boerdery beskikbaar is, raak kleiner,” het Shamathe gesê.

Shamathe het gesê die regering se ingryping is nodig weens die stadige oordrag van grondeienaarskap vanaf buitelanders na Namibiërs. “Van ons kommunale boere gradueer en het die vermoë om kommersiëlle plase te koop, maar staar steeds uitdagings in die gesig om grond te kry. As ons lede selfs geleidelik toegang tot daardie twee persent kan kry, sal dit goed wees. Die regulasies kan later weer hersien word, as dit nodig sou wees,” het die NNFU voorgestel.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.