Brandpaaie op jou grens met ‘n breedte van 15 meter asook geskrewe toestemming van jou bure – dit is van die jongste vereistes vir houtskoolprodusente wat die direktoraat van bosbou verlede week afgekondig het.

In ‘n brief wat verlede week uitgereik is, waarsku die direkteur van bosbou, mnr. Johnson Ndokosho, dat groot dele van die land bogemiddelde reën ontvang het en Namibië nou die droë brandseisoen betree.

Die brandseisoen begin amptelik op 1 Mei.

“Dit is daarom nodig om vroegtydig streng maatreëls vir die houtskoolbedryf af te kondig,” het hy bygevoeg. Hy sê permitte vir die oes van hout sal slegs uitgereik word nadat die direktoraat kon bepaal of die nodige vereistes nagekom word.

Volgens die regulasies moet ‘n houtskoolprodusent sy bure nou van sy bedrywighede inlig en hul geskrewe toestemming kry voor houtskoolproduksie kan begin. ‘n Brandpad van 15 m breed moet ook teen jou hoofgrensdrade aangebring word.

Verder geld dieselfde reëls as vantevore, naamlik dat 15 m rondom kilns skoongemaak moet word, kilns saam gegroepeer moet word, houtkappers in brandbestryding opgelei moet word en brandbestrydingstoerusting te alle tye beskikbaar moet wees op plekke waar houtskool gemaak word.

Brandende kilns moet opgepas word en geen bome met ‘n deursnee van meer as 18 cm mag geoes word nie.

Houtskoolprodusente het intussen hul kommer uitgespreek dat 15 meter vir brandpaaie nie realisties is nie. Dit is verander vanaf verlede jaar, toe die regulasie slegs “’n skoon strook vry van bos” vereis het.

Ndokosho het sy dank uitgespreek aan die meerderheid houtskoolprodusente, wat nougeset by die regulasies hou.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.