Hoewel die oorweldigende meerderheid van Namibiërs glo elkeen het die reg om te besluit of hulle teen Covid-19 ingeënt wil word of nie, is meer as die helfte ten gunste van die verpligte inenting van gesondheidswerkers.

Die bevindings van die jongste Afrobarometer toon 53% van mense sal die verpligte inenting van gesondheidswerkers in die land ondersteun.

Dié data, wat gistermiddag tydens ‘n regstreekse uitsending op die Facebook-platforms van Namibia Media Holdings (NMH) bekend gemaak is, is laat verlede jaar deur Survey Warehouse ingewin.

Veertig persent van respondente glo maatskappye behoort te mag vereis dat al hul werkers teen Covid- 19 ingeënt moet word, terwyl 43% voorstanders van verpligte inenting van onderwysers en personeel by skole, universiteite en opleidingsentrums is.

Net ingeënte mense behoort toegelaat te word om kulturele en sportbyeenkomste en musiekfeeste by te woon, meen 36% van respondente.

ELKEEN SE BESLUIT

Gepols oor of die regering alle mense moet verplig om ingeënt te word, het 72% egter gesê elke individu behoort die vryheid van keuse te hê. Skaars een uit elke vier respondente is ten gunste van verpligte inenting.

Verpligte inenting is ’n “baie netelige kwessie”, het mnr. Christie Keulder, politieke wetenskaplike en besturende direkteur van Survey Warehouse, tydens die Afrobarometer-uitsending gesê.

“Die regering mag ’n politieke risiko loop indien hulle dit afdwing,” meen hy.

Volgens me. Emma Iyambo, lid van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se nasionale Covid-19-entstoftaakmag, moet die gemeenskap die pas rakende dié omstrede besluit aangee.

Die Afrobarometer se statistiek toon 29% van mense sê dis “hoogs onwaarskynlik” dat hulle die Covidentstof sal neem.

Volgens die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se syfers het 426 932 mense teen Dinsdag reeds hul eerste spuit ontvang, terwyl 247 441 hul tweede dosis gekry het. Die totaal vir diegene wat ’n skragingsdosis ontvang het, staan op 22 018.

Net sowat 25% van die teikenbevolking van ongeveer 1,47 miljoen mense is ten volle teen Covid-19 ingeënt.

Namibië is nie naastenby op koers om die doelwit te behaal om 70% van die bevolking teen die middel van vanjaar ingeënt te hê nie, het die gesondheidsminister, dr. Kalumbi Shangula, Dinsdag gesê.

REDES

Wantroue in en kommer oor die veiligheid van entstowwe is die grootste beswaar, toon die Afrobarometer.

Vir 55% van respondente is dit die vernaamste rede dat hulle huiwerig is of weier om ingeënt te word.

Net tien persent is skepties oor die entstof en nóg tien persent glo in samesweringteorie daaroor. Agt persent het godsdiens as verskoning gebruik.

Veertien persent van respondente het gesê hulle is “ietwat onwaarskynlik” om ingeënt te word, terwyl 15% aangedui het hulle sal “dalk” ingeënt word. As dié twee groepe oortuig kan word om in te ent, kan dit ’n impak op Namibië se inentingsveldtog maak, sê Keulder.

Die veldtog moet sekere groepe teiken, stel hy voor.

Die Afrobarometer toon vroue is meer huiwerig as mans en ’n groot deel van die jeug is teen inenting gekant.

Navorsing dui voorts daarop dat ongeneë Namibiërs eers drie of meer keer persoonlik ervaring van Covid-19 moet opdoen vóór hul dit oorweeg om van mening te verander, sê Keulder. Sulke ervarings sluit in inkomsteverlies, die siekte self of lewensverlies weens die virus.

Volgens hom is verpligte inenting nie noodwendig die oplossing nie.

Ons berig volgende week in meer besonderhede oor die Afrobarometer se bevindinge oor geslagsgeweld en armoede.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.