Die land se uitvoerabattoir vir beesvleis sê hy was tydens die verwoestende droogte van 2019 die enigste “skokabsordeerder” en het die afgelope drie jaar sowat N$2 miljard aan beesvleisprodusente uitbetaal “met die uitsluitlike doel om hulle oorlewing te verseker”.

Meatco het in ’n verklaring gereageer op ’n berig Woensdag in Republikein oor produsente se kommer oor sy volhoubaarheid op die lang termyn, en hul vrese dat dié vleiskorporasie se groot skuldlas die uitvoerwaardeketting vir beesvleis in die gedrang kan bring.

Mnr. Patrick Liebenberg, bestuurder vir veeverkryging en -produksie, sê Meatco maak ten sterkste beswaar teen sulke aantygings. “Meatco kan bevestig dat hy as staatsonderneming die afgelope 15 jaar jaarliks geouditeerde finansiële state gepubliseer het.”

Meatco kon egter die afgelope twee jaar vanweë die Covid-19-regulasies nie ’n algemene jaarvergadering hou nie, wat produsente gefrustreer het en bydra tot hul kommer oor die finansiële situasie, het mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), vroeër verduidelik.

Volgens Meatco fokus sy huidige bestuursmodel op langtermyn volhoubaarheid en winsgewendheid, “waarin die belang van die produsent as hoogste prioriteit beskou word”.

“Meatco het kennis geneem van bespiegelinge, uitsprake deur individue en ondeurdagte beriggewing binne die bedryf dat Meatco nie ekonomies volhoubaar is nie en in die nabye toekoms gelikwideer gaan word. Die bestuursplanne is juis daarop gefokus om Meatco se langtermyn volhoubaarheid en winsgewende voortbestaan te verseker,” sê Liebenberg.

Volgens hom het Meatco as deel van die langtermynplan vir volhoubaarheid, sy kommersiële bankskuld by FNB Namibia en Bank Windhoek tussen 2019 en vanjaar met ongeveer 70% verminder.

Meatco het in 2020 ’n lening van N$250 miljoen by die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) aangegaan en dit gedeeltelik aangewend om sy oortrokke rekenings by handelsbanke af te los, is vroeër berig. Dit was nadat hy reeds by vorige geleenthede N$150 miljoen by die DBN geleen het.

Liebenberg wys namens die uitvoerende bestuur daarop dat Meatco die mandaat het om die bedryf “te bedien, te bevorder en te koördineer tot die beste belang van alle belanghebbendes”, en voeg by die vleiskorporasie werk hard daaraan om dit tot voordeel van alle Namibiese produsente te doen.

Hy sê tasbare bewyse bestaan dat Meatco oor baie jare heen kompeterende pryse aan Namibiese produsente betaal het met die doel om die vleisbedryf te stabiliseer en produsente te help om winsgewend te boer.

“Meatco verseker produsente dat hoogs mededingende pryse volhoubaar aan hulle betaal sal word uit die inkomste wat hy in die onderskeie uitvoermarkte verdien,” sê hy.

Meatco voer beesvleis uit na markte in Europa, die VSA en China.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.