Namibië het Donderdag vir die derde keer buite stemming gebly in ‘n besluit oor Rusland. Hy was een van 58 lande wat nie standpunt ingeneem het toe die Verenigde Nasies (VN) se Algemene vergadering besluit het om Rusland uit sy Menseregteraad te skors nie.

Amerika het die aanvoorwerk gedoen aangesien Rusland hom na bewering skuldig gemaak het aan “growwe en sistematiese oortredings en skending van menseregte” sedert hy Oekraïne op 24 Februarie vanjaar ingeval het.

Altesaam 93 lande het ten gunste van die besluit gestem, terwyl 24 lande – waaronder China, Sirië, Kuba, Noord-Korea en Iran – die resolusie teengestaan het.

Die meeste lande binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het soos Namibibië buite stemming gebly. Zimbabwe het daarteen gestem en die Demokratiese Republiek van die Kongo, Malawi, Mauritius, die Comore-eilande en die Seychelle was ten gunste van die resolusie.

Namibië het in Maart ook twee keer buite stemming gebly oor Rusland. Een keer in die Algemene Vergadering van die VN toe Rusland oor die kole gehaal is oor sy inval in Oekraïne en die dag vantevore toe die verrigtinge van die VN se Menseregteraad in Genève, Switserland, onderbreek is om te stem of ’n spesiale debat oor menseregteskendings deur Russiese soldate gevoer kan word.

Die ministerie van buitelandse betrekkinge en samewerking het tot nou toe nog nie in ’n verklaring aan Namibiërs verduidelik waarom die regering nie deur te stem in die VN en sy organe, standpunt inneem teen die Russiese inval en menseregtevergrype nie.

Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het die VN se Veiligheidsraad Dinsdag toegespraak nadat inwoners van die stad Boetsja na bewering grusaam deur Russiese soldate vermoor is.

CNN het berig hy het Russiese soldate daarvan beskuldig dat hulle burgerlikes “vir hul plesier” vermoor het.

Hy het gevra vir ‘n spesiale internasionale tribunaal wat die misdade kan ondersoek, asook vir die verwydering van Rusland uit die Veiligheidsraad.

Rusland se ambassadeur by die VN, Wassili Nebenzia, het volgens Al Jazeera aan die Veiligheidsraad gesê Russiese soldate teiken nie burgerlikes nie. Hy het die beskuldigings van misdadige optrede as leuens afgemaak.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.