Met die groeiende kragkrisis in Suid-Afrika is gesprekke onderweg om NamPower se kapasiteit se toets indien Namibië nie meer krag van Eskom kan invoer nie.

Dit volg ná berigte dat Suid-Afrika beoog om ’n noodtoestand af te kondig om die energiekrisis in die land te bestuur.

Namibië voer tans 200 megawatt (MW) elektrisiteit van Eskom in, wat beurtkrag oraloor Suid-Afrika ingestel het.

Die minister van myne en energie, Tom Alweendo, sê Namibië monitor die kragsituasie binne die Suider-Afrikaanse Kragpoel noukeurig en sê as grootmaat-kragnutsdienste in die streek krag onttrek, sal dit elektrisiteitsprojekte wat reeds in die vooruitsig is, versnel.

Hy sê besprekings is aan die gang om NamPower se vermoë te toets om krag te verskaf, indien Suid-Afrika besluit om sy kragtoevoer na sy buurlande te sny.

“Die dreigende elektrisiteitstekort in die streek is beslis kommerwekkend. Ons is in gesprek met die minister van finansies en openbare ondernemings, asook NamPower om ons plan B te toets indien ons nie meer in ’n posisie is om elektrisiteit in te voer nie. Plan B is in wese om projekte vir kragopwekking te bespoedig wat reeds vir implementering geoormerk is,” het hy gesê.

NamPower beplan om verskeie kragopwekkingsprojekte te implementeer om energiekapasiteit van tot 220 megawatt (MW) te verseker. Die projekte sal wissel van fotovoltaïese sonkrag (PV) en wind tot biomassa en sal deur NamPower en onafhanklike kragprodusente (IPP’s) bestuur word en behoort glo teen 2025 voltooi te wees.

“Namate die projekte voltooi word, sal dit oor ’n tydperk ons afhanklikheid van invoer verminder en selfvoorsiening verhoog, asook voorsieningsekerheid verbeter. Hierdie projekte vorm deel van die ministeriële besluit van 2018 en NamPower se geïntegreerde strategie en sakeplan vir 2020-’25,” het die maatskappy gesê.

Van die projekte wat beplan word, is ’n Khan 20 MW fotovoltaïese sonkragprojek en ’n 50 MW-windprojek beide deur IPP’s.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.