Die African National Congress (ANC) sê hy bly daartoe verbind om te verseker dat die Suid-Afrikaanse kragverskaffer Eskom sal voortgaan om krag aan sy buurlande – insluitend Namibië – te verskaf, ondanks die instelling van ‘n intensiewe beurtkrag-regime in daardie land. Dit volg op bespiegelings dat die party by sy Lekgotla (byeenkoms) wat Maandag gehou is, besluit het om Eskom opdrag te gee om kragtoevoer na sy bure binne die Suider-Afrikaanse Kragpoel (SAPP) op te skort.

Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, het Dinsdag aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê die ANC oorweeg om ‘n ramptoestand in hul land in te stel om energietekorte te hanteer.

“Ons stel ‘n ramptoestand voor en het ons ontplooides gevra om ons raad te gee oor hoe om te werk te gaan om dit wettig te implementeer.

“Geen besluit is deur die ANC geneem dat die lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) nie van elektrisiteit voorsien moet word nie,” het sy gesê.

MOENIE SPEKULEER NIE

Vincent Magwenya, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse president Cyril Ramaphosa, het ook gesê vrese dat die ANC besluit het om die kragtoevoer na sy buurlande op te skort, is ongegrond.

“Ignoreer asseblief spekulasies en wag vir die amptelike aankondiging deur ons regering. Gesprekke is aan die gang, en geen besluite is nog geneem nie. So, om in hierdie stadium ag te slaan op spekulasie sal uiters onverantwoordelik wees,” het hy gesê.

Beurtkrag word tans in beide Suid-Afrika en Zambië ervaar, ‘n situasie wat volgens Eskom vir die volgende twee jaar sal voortduur.

Zambië se Zesco het beurtkrag op ’n rotasiebasis ingestel weens verswakte kragopwekking as gevolg van die lae watervlakke van die Karibadam-hidrokragstasie.

NamPower verkry elektrisiteit van beide grootmaatkragverskaffers asook van ander verskaffers in die SAPP.

Eskom is ook onder druk van die breër Suid-Afrikaanse publiek, wat eis dat hy kragvoorsiening aan kliënte buite sy grense verminder om eers na interne behoeftes om te sien.

Volgens ooreenkomste voer NamPower 200 megawatt (MW) van Eskom in en 100 MW van Zesco.

‘DIS DIE WET’

’n Senior NamPower-amptenaar, wat op voorwaarde van anonimiteit met Namibian Sun gepraat het, het gesê: “Dit is wetlik bindende bilaterale ooreenkomste wat nie net so beëindig kan word nie. Dis die wet.

“Ons het geen inligting van Eskom ontvang dat hulle die voorsieningsooreenkoms gaan staak nie.”

Dit beaam ‘n verklaring verlede week deur die plaaslike kragverskaffer, wat gesê het: “NamPower en Eskom het ‘n getekende kragvoorsieningsooreenkoms (PSA), gebaseer op die goeie bilaterale betrekkinge tussen Namibië en Suid-Afrika. As gevolg van samewerking tussen streke wat via die SAPP tot stand gebring is, gaan die plaaslike elektrisiteitsrolspelers PSA’s aan, wat verleng kan word.”

“Die bilaterale ooreenkoms met Eskom bestaan al dekades. Daar is bykomende opsies om rolspelers uit SAPP-lidstate te betrek vir bilaterale ooreenkomste.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.