Meatco is steeds “in die intensiewesorgeenheid” en daar moet besluit word of lewensondersteuning afgeskakel en of nuwe lewe in die maatskappy geblaas moet word.

Minister Calle Schlettwein van landbou, water en grondhervorming het dié opmerking gemaak in sy jaarlikse toespraak Maandag in Windhoek aan personeel en ander rolspelers.

“Wat ons in die kommersiële sektor sien, is dat Meatco – as die grootste abattoir – die boere tot ’n sekere mate in die steek gelaat het. Dié boere het die saak nou in eie hande geneem en is besig om hul eie abattoirs te ontwikkel.”

Hy het gesê ’n tyd kom wanneer ’n besluit oor die maatskappy se toekoms geneem moet word.

“Dis ’n moeilike besluit – of die hulpbronne wat ons in daardie hinkepinkende organisasie belê goed bestee word en of ons nie ’n deel daarvan moet gebruik om boere te ondersteun nie. Die harde feite moet oorweeg word en ons besluit moet tot voordeel van boere en die produsente wees.

“As daar vermorsing of lekplekke is, as ons [vir] ander dinge betaal as om produksie te ondersteun, dan is ek skepties of daardie steun ’n impak het.

“Dis die vrae wat die beplanners spoedig moet beantwoord, want behalwe vir die tyd, raak die geld ook min.”

Oor abattoirs in die Noorde – met die uitsondering van die een by Katima Mulilo – het Schlettwein gesê daar is niks aan die gang nie.

“Boere moes noodgedwonge alles alleen doen; onder ’n boom slag en stuk-stuk verkoop en dis nie wat ’n doeltreffende ondersteuningstelsel is nie. Die helfte van ons beeste sit sonder ’n mark.”

Hy het bygevoeg dat hulle nou kommoditeitsgebaseerde handel toepas en dit werk goed. Die Katima Mulilo-abattoir voorsien die Noorde, Windhoek en Ghana van vleis. “Maar al die ander abattoirs is in lykshuise, nie eens in intensiewe sorg nie.”

DRINGEND

Die minister het gesê hoë prioriteit en dringendheid moet verleen word aan die operasionalisering van die res van die abattoirs in die noordelike kommunale gebiede om markgeleenthede te ontsluit en kommoditeitsgebaseerde handel meer impak te gee.

“Die ministerie en alle rolspelers soos Meatco, die Vleisraad van Namibië, boere en plaaslike owerhede moet saamwerk om doeltreffende produksie van slagbeeste en marktoestande vir die abattoirs landswyd te herstel.”

Hy het gesê die abattoir op Rundu is suksesvol toegerus, en die tegniese oorhandiging aan Meatco is afgehandel. Die amptelike oorhandiging van die abattoir sal in die komende weke gebeur.

Intussen het die minister gesê die reaksie op die uitbreking van verskeie serotipes van bek-en-klouseer en ander aansteeklike siektes het die inenting van meer as 234 000 beeste in die besmette gebied en sowat 245 062 beeste in hoërisikogebiede van die beskermingsone moontlik gemaak.

UITVOERENDE HOOF REAGEER

Intussen het Meatco se uitvoerende hoof, Mwilima Mushokabanji, gesê die maatskappy het veeboere gered tydens een van die moeilikste tye wat die bedryf nóg in die gesig moes staar.

“As Meatco nie daar was toe ons die 2019-’20-droogte moes deurmaak nie, sou ons ’n krisis in die bedryf gehad het, maar Meatco was daar. Ons het N$1,7 miljard gegenereer en ons kon in die moeilikste tydperk na boere in die land omsien.”

Mushokabanji het in ’n onderhoud met Namibian Sun op Schlettwein se opmerkings gereageer. Landbou-unies het ook al na Meatco gekap, wat glo kommunale boere “opsy gestoot” het.

Hy het verduidelik Meatco moet minstens 60 000 tot 65 000 beeste slag om winsgewend te wees en om die Windhoekse abattoir te bedryf.

“Dus is deurset baie belangrik.”

Hy voeg by dat Meatco se uitdagings reeds met die droogte van 2013 begin het.

Hierbenewens is hulle ook geknou deur die Covid-19-pandemie – wat hul markte in China, die VSA en Europa getref het.

“Met beesgetalle wat die afgelope twee jaar laag was, moet ons die besigheid dus herbelyn en het baie sterk kostebesnoeiingsmaatreëls ingestel.”

Hy het beklemtoon die maatskappy het daarin geslaag om al sy skuld terug te betaal, behalwe vir sowat N$400 miljoen wat aan die Ontwikkelingsbank van Namibië verskuldig is.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.