In ‘n ingrypende stap kan die NG Kerk in Namibië sy bande met die algemene sinode (AS) van die NG Kerk in Suid-Afrika breek indien laasgenoemde nie binne die volgende ses maande instem om sekere van sy besluite, waaronder dié oor selfdegeslag-verhoudings, te hersien nie.

Dié besluit is tydens die Namibiese sinode se pasafgelope sitting in Windhoek geneem.

Dr. De Wet Strauss, ondervoorsitter van die sinodale bestuur, het Saterdag na afloop van die Namibiese sinode in ‘n verklaring aangekondig ‘n besluit is ingevolge artikel 37 van die kerkorde geneem om “‘n pad van kerklike tug en dissipline met die NG Kerk se algemene sinode te stap soos dit uitgespel word deur Jesus in Mattheus 18:15-17”.

“Die sinode van Namibië is van oordeel dat die AS nie die NG Kerk met kerklike leierskap dien nie,” lui die verklaring.

Strauss sê die Namibiese sinode verwys veral na die besluite wat verband hou met selfdegeslag-verhoudings en die bestuur van teologiese opleiding aan die universiteite se teologiese fakulteite waarmee die algemene sinode hom verbind.

Die AS het in 2019 beslis NG gemeentes kan self besluit of hulle ten gunste van selfdegeslag-verhoudings is en of hulle gay predikante wil beroep.

Die Namibiese sinode met sy 45 gemeentes sal oor die komende maande lidmate hieroor inlig en “betrek by die verskillende prosesse wat hierdie ingrypende besluit tot gevolg sal hê”, sê Strauss.

Mattheus 18 lui: “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.