Die gevolge van die konflik tussen Rusland en die Oekraïne op landbou se insetkoste, beteken boere sal moet heroorweeg hoe daar meer met minder gedoen kan word.

Dít is die mening van dr. Kobus Laubscher, landbou-ekonoom en onafhanklike strategiese konsultant.

“Oekraïne het ‘n verbod op die uitvoer van kunsmis geplaas. Daar gaan dus ’n kunsmistekort wees terwyl die stygende olieprys ‘n reuse-impak op die koste van produksie gaan hê. Dit sal egter nie vanjaar al gebeur nie, maar beslis in 2023 en so ver as 2024.”

Hy meen kommer heers oor landbou se insetkoste.

“Boere sal moet oorweeg hoe hulle méér met minder gaan produseer.

“My verwagting is dat, behalwe daarvoor dat die verbruiker sal moet heroorweeg watter kos bekostigbaar is en wat sy begroting gaan toelaat, behoort boere ook nougeset op produksiekoste te fokus, en of dit die moeite werd is om sekere gewasse te produseer.

Laubscher sê die nadraai van die Covid-19-pandemie asook faktore soos die feit dat boere ná die droogte steeds aan kuddes herbou, sal ‘n impak op die aanbod van landbouprodukte hê.

“Alles in ag genome, saam met ekonomiese faktore soos werkloosheid en hoë inflasie, sal die gebrek aan voedselsekuriteit op huishoudelike vlak na verwagting toeneem, wat beteken meer sosioëkonomiese faktore kan ontstaan.”

Laubscher meen egter voedselsekuriteit behoort egter nie op makrovlak geraak te word nie.

VERBRUIKER

“My gevoel is dat ons vir die res van die jaar met baie hoë pryse, hoër inflasie en hoër kospryse kan sukkel,” sê Laubscher.

“Die verbruiker sal sy kosmandjie moet heroorweeg, asook hoe en waar hy gaan ry.”

Hy verduidelik dit het ‘n verwringende uitwerking op wêreldmarkte, want die sanksies wat ingestel word, raak internasionale handel met en na Rusland en die Oekraïne.

Laubscher sê terwyl die lande belangrike voorsieners van verskeie produkte is, is dit die verskaffing van koring wat ‘n onmiddellike impak op verbruikers gaan hê.

“Suid-Afrika het gewoonlik ‘n sekere hoeveelheid koring wat gereed is om gemaal te word, maar die jongste inligting wys daar is nie baie oor nie, want dit word op ‘n gereelde basis ingevoer.

Laubscher sê Namibië is ook afhanklik van die ingevoerde koring.

Volgens die Namibië Akkerbouraad (NAB) het Namibië verlede jaar tot 90% van die koring ingevoer wat plaaslik verbruik word.

“Die verwagting is dat koringpryse in pas met internasionale pryse gaan styg. Pryse het reeds gestyg vóór die oorlog, toe daar nog net gerugte daarvan was,” het Laubscher bygevoeg.

“Ons gaan duurder betaal vir kos wat geprosseseer word met koring as ‘n basis,” sê hy.

“Daar is reeds gerugte van ’n tekort aan kookolie, want die wêreld is nie gerat om groot hoeveelhede voorraad te berg in geval van sulke gebeurlikhede nie.

“Wat ons baie bekommerd maak, is stygings in die brandstofprys. Dit het die vermoë om ‘n invloed regdeur die ekonomie te hê. Ons kan verwag dat ons meer by die pompe vir brandstof gaan betaal, maar ook dat elke diens en produk waarvan brandstof ‘n inset is, ‘n kosteverhoging gaan hê.

“Kosinflasie kan dus veral styg. Dit is baie slegte nuus in hierdie stadium, aangesien verbruikers reeds onder druk is.

“In die geheel gesien is die gevolge op die inval van die Oekraïne slegte nuus oor die kort termyn en dit sal ‘n hele rukkie neem voor die ekonomie die impak daarvan sal kan verwerk,” sê Laubscher.

LOGISTIEK

“Veronderstel dat die lande, wat nou in oorlog gewikkel is, steeds landbou-oeste teen Junie sal kan afhaal, is die uitdaging om die oeste by hul hawens en daarvandaan na uitvoerbestemmings te kry,” het Laubscher gesê.

Hy meen dat skeepsvragtariewe ook gaan styg. As ons dit saamlees met die verwagte stygings in die olieprys, is dit baie slegte nuus vir verbruikers, meen Laubscher.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.