Terwyl Oekraïense soldate die afgelope twee dae alles in die stryd gewerp het om sy grootste stede uit die greep van die Russiese invalsmag te hou, het Namibië vir die tweede keer vandeesweek nié teen Rusland standpunt ingeneem nie.

Namibië het Woensdag buite stemming gebly in die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (VN) toe Rusland oor die kole gehaal is oor sy inval in Oekraïne.

Dit was nadat hy Dinsdag ook buite stemming gebly het toe die verrigtinge van die VN se menseregteraad in Genève, Switserland, onderbreek is om te stem of ’n spesiale debat oor menseregteskendings deur Russiese soldate tydens die inval in die Oekraïne gevoer kan word. Die debat is gistermiddag gevoer.

Namibië was een van 35 lande wat buite stemming gebly toe daar in die Algemene Vergadering gestem is oor ’n resolusie waarin Rusland se optrede veroordeel word en geëis word dat hy sy magte aan Oekraïne onttrek.

Die ministerie van buitelandse betrekkinge en samewerking het tot nou toe nog nie in ’n verklaring aan Namibiërs verduidelik waarom die regering nie standpunt in neem teen die Russiese inval en menseregtevergrype nie.

Rusland kon intussen ’n week sedert die begin van die inval nog nie daarin slaag om die Oekraïense regering omver te werp nie en het hy sy aanslag op die land se stede verskerp.

Die stadskern van Charkif, die oostelike stad met sowat 1,5 miljoen inwoners, is ’n woesteny van vernietigde geboue en puin, berig Reuters.

Die stadsraad van Marioepol in Oekraïne sê die Russiese magte is besig om die stad doelbewus te vernietig deurdat noodsaaklike burgerlike infrastruktuur aangeval word.

Volgens die stadsraad het die Russe Marioepol se kritieke lewensondersteunende infrastruktuur doelbewus sewe dae lank vernietig. Die raad bestempel die aanval op die stad as ’n “volksmoord van die Oekraïense mense”, berig dié nuusagentskap.

Russiese troepe het gister ook in Cherson in Oekraïne aangekom nadat daar aanvanklik eergister verwarring was of hulle die stad oorgeneem het. Rusland se departement van verdediging het dit Woensdag al aangekondig, maar pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het dit ontken, het Reuters berig.

‘RUSLAND SAL AANHOU VEG’

Rusland se minister van buitelandse sake, Sergei Lawrof, het gister gesê hoewel dié land daarvan oortuig is ander lande berei voor vir ’n oorlog teen Rusland, sal Moskou “tot die einde” met hul aanval in Oekraïne aanhou.

Volgens Reuters het hy ’n onderhoud met die staatsmedia gesê pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne is die leier van ’n samelewing “waar Nazisme floreer”. Zelenski is ’n Jood.

OLIEPRYS

Die olieprys het gister tot US$120 per vat opgeskiet nadat die VSA Woensdag beperkings op die uitvoer van Russiese olie ingestel het.

Dit beteken Namibiërs kan reeds aanstaande maand Rusland se oorlog teen Oekraïne aan hul beursies voel wanneer brandstofpryse waarskynlik wéér skerp sal styg.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.