’n Nasionale ontleding van stropery en wild- en veediefstal gaan binnekort begin, sodat rolspelers “bykomende optrede van wetskrywers en wetstoepassers kan onderneem wat deur ekonomiese aanwysers gestaaf word”.

Volgens die Namibië Landbou-unie (NLU) se jongste nuusbrief wil dié organisasie asook ander plaaslike landbou-unies in samewerking met die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), teen einde Maart inligting hieroor begin versamel.

NLU-lede asook die breër publiek word aangemoedig om inligting te verskaf oor verliese wat op plase gely is.

Die landbou-unies sal, met die bystand van Nust, poog om ’n ontleding van die totale ekonomiese impak van stropery en veediefstal op titelakte-boerderygrond oraloor die land op te stel.

“Grondeienaars skerp voortdurend hul sekuriteit op, met buurtwagte wat groot gebiede patrolleer, die oprig van geëlektrifiseerde heinings en die installasie van duur toestelle om paaie, natuurreservate en brandpunte te monitor,” sê die NLU.

Landbouers meen die koste van misdaadvoorkoming styg ongehinderd en kós hulle.

“Dit lyk asof wild- en veestropery oor die land toeneem. Sommige gebiede word uitsonderlik swaar getref en verliese van miljoene dollar word aangemeld, terwyl misdaadvoorkomingsinisiatiewe die reeds hoë produksiekoste verder verhoog.

“Deurlopende vrees vir voortgesette veediefstal en pogings om oortreders op te spoor, plaas emosionele spanning op produsente,” skryf die NLU en voeg by dit kan daartoe lei dat boere hul fokus verloor en nie optimaal produseer nie.

“Dis nie ’n maklike taak om ’n syfer te kry van die ekonomiese impak of finansiële verliese wat deur titelaktehouers gely word nie.

KURSUS

Wildlife Vets Namibia bied ’n kursus oor die hantering van misdaadtonele op plase vanaf 4 tot 6 Maart by Etango Ranch aan en dan weer vanaf 13 tot 15 Mei by Kifaru Bush Camp in die Outjo-omgewing.

Die kursus dek alles van hoe om ’n misdaadtoneel te benader en te hanteer, tipes bewyse, forensiese fotografie asook die instandhouding van ’n ketting van bewyse.

Die kursus is ontwerp om multidissiplinêre samewerking te verbeter en aan te vul tussen diegene wat dikwels eerste op die toneel is, soos onder meer boere, teenstropingseenhede of veeartse asook die polisie en personeel van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme. Die einddoel is om die oortreders aan die pen te laat ry. Vir meer inligting oor die kursus kan belangstellendes 081 382 8473 skakel, ’n WhatsApp na 316 4369 3095 stuur of ’n e-pos na mariska@wildlifevetsnamibia.com.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.